
“Transformasie van die landbou beteken nie dat dit wat reeds bestaan, en wat werk, vernietig moet word nie. Dit beteken nie ons wil die kommersiële landbou vernietig nie,” het pres. Jacob Zuma by die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) se konferensie oor transformasie van landbousake gesê.
“Ons ondersteun alle boere ten volle: Swart en wit, gevestig en opkomend. Transformasie is daarop gerig om swart mense toegang te bied om betekenisvol aan die ekonomie deel te neem, in dié geval die voedselproduksie-waardeketting,” het hy by 'n dinee tydens die konferensie gesê.
Volgens Zuma het 'n produktiewe landbousektor die potensiaal om landelike gebiede in volhoubare ekonomiese sentrums te transformeer.
Afasa se optog na Uniegebou
Zuma het terugvoer gegee op 'n versoekskrif wat Afasa op 26 Oktober 2016 in 'n optog na die Uniegebou gebring het. Die Regering sal volgens hom voortgaan om kleinboere te ondersteun en verwelkom Afasa se terugvoer hieroor.
Die staat weet voorligtingsbeamptes kort opleiding, en verder is die kwessie van moontlike voorkeurtoegang vir opkomende boere tot groot staatsmarkte, soos hospitale, skole en tronke, by die onlangse ANC-lekgotla bespreek.
Zuma het verder gesê die AgriSEB-sektorkode word afgehandel en behels onder meer die insluiting van plaaswerkers by die telkaart oor eienaarskap.