
Wat as ’n passie begin het, het ontwikkel in ’n besigheid wat ’n unieke produk bied. Die Guldenvrug-beesboerdery net buite Pretoria is in 2007 gestig en het sedertdien met rasse skrede uitgebrei. Mnr. Nico Steyn van Guldenvrug Angus het ’n visie om die eindverbruiker nader aan die boer te bring, en veral nader aan Angus Beef.
Guldenvrug het die afgelope jaar sy eie ontbeenaanleg op die plaas aangebring. Dit was die eerste stap om op te skuif in die waardeketting. Guldenvrug verwerk sy eie diere, maar bekom bykomende diere van South African Angus Beef waar ’n streng protokol van geen groeihormone gevolg word. Daar is ’n groter klem op gehalte-teelmateriaal wat ingebring en waarmee binne die landsgrense geteel word.
Met die onlangse verkryging van die Dry Ager-agentskap bied Guldenvrug Angus-vleis van uitsonderlike gehalte. “Guldenvrug bied ’n Angus-premieproduk wat minstens 28 dae in ons Dry Ager-kabinette verouder voor dit rak toe gaan. Só bied ons ’n gedifferensieerde produk met die klem op smaak, tekstuur en sagtheid. Die Dry Ager-tegnologie laat ons toe om voordeel te trek uit die Angus-vleis se marmeringseienskappe en ’n uitsonderlike produk vir verbruikers te verskaf.”
Guldenvrug het ook onlangs sy eie kleinhandelwinkel geopen en verskaf ook Angus-vleis aan mense wat Dry Ager-masjiene gekoop het vir eie gebruik. Dit lei tot ’n groter begrip vir die verouderingsproses, asook ’n groei in die aantal vleisliefhebbers wat op soek is na Guldenvrug se Angus-biefstuk.
Guldenvrug het ook ’n toetskombuis ingerig waar sy eie sjef nuwe tegnieke van vleisveroudering en gaarmaak ontwikkel. Die publiek kan hier demonstrasies en kursusse op sekere tye van die maand bywoon. Volg Guldenvrug Produce op Facebook vir inligting oor die beskikbaarheid van produkte, asook resepte, wenke en spesiale aanbiedinge.