
Wat is ’n beestelersgenootskap? Dit is mense met dieselfde visie en geesdrif om ’n beesras aan te vuur na ongekende hoogtes, en wat sonder kompromieë en met integriteit sy rasstandaarde en teelbeleid toepas. Die Beefmaster-genootskap van Suid-Afrika is ’n spreekwoordelike voorbeeld daarvan, daarom sien ons die groei in ons ledetal, beesgetalle en markaandeel in die stoetbedryf.
Die Beefmasters is geselekteer vir die volgende eienskappe:
- Vrugbaarheid.
- Melkproduksie.
- Bouvorm.
- Aanpasbaarheid.
- Gehardheid.
Hierdie eienskappe maak dit die ideale ras om in ons diverse omstandighede oor die hele Suider-Afrika mee te boer. Mnr. Tom Lasater van Amerika het in die vroeë 1900’s begin om die ras te ontwikkel en dit is in 1954 deur die Amerikaanse departement van landbou as ’n volwaardige ras goedgekeur.
Die ras is ’n driehoekskruising tussen Hereford, Shorthorn en Brahman. Die Beefmaster-ras is sedert die middel 1980’s in Suid-Afrika ontwikkel en gebruik, en ondanks sy herkoms, het die ras baie goed in Suid-Afrika aangepas en gepresteer. Met streng seleksie, goeie bestuur en ’n passie vir beesteling, met die klem op ekonomiese vooruitgang, is ’n ras geteel wat nommer een in Suid-Afrika is.
Dit is die ras met die grootste kuddegroottes onder alle rasse en die tweede grootste ras in Suid-Afrika. Dié ras het ook die beste koeidoeltreffendheid, met ander woorde, die persentasie wat ’n kalf van sy ma se gewig speen. Die Beefmaster-ras se gemiddelde tussenkalfperiode is 406 dae vir 29 518 vroulike diere ouer as twee jaar. Dit maak ons ’n leier in reproduksie in die beesbedryf.
Ekonomiese beesboerdery was nog altyd die dryfveer vir seleksie-eienskappe en daarom is die Beefmaster ’n leier in reproduksie en sukses. Beefmaster-kalwers is baie gesog in voerkrale. Hulle groei goed, het ’n goeie raamgrootte, is gehard teen siektes en het ’n goeie temperament. Die samestelling van die sintetiese ras is ideaal vir gemaklike, funksionele beesboerdery en komplementeer enige ander ras met kruisteling.
Die Beefmaster se erfdwang en voorspelbaarheid is hoog en daarom is die gebruik van Beefmaster-bulle die vinnigste manier om enige beeskudde se produksie en winsgewendheid te bevorder.
Moenie agterbly nie. Word deel van die Beefmaster se suksesverhaal.