
Bonsmara SA moes in 2020 reeds die moeilike besluit neem om sy Die Rooi Ras-geleentheid en nasionale vroulikedierveiling af te stel. Die nasionale veiling was in die weegskaal weens die destydse uitbreking van bek-en-klouseer en die veilingsverbod wat daarop gevolg het. Daarna het covid-19 toegeslaan en was die veiling en spoggeleentheid van die baan vir 2020 en 2021.
Daarom word met groot opgewondenheid uitgesien na Die Rooi Ras-geleentheid en nasionale vroulikedierveiling wat op 16 Maart vanjaar by die Stonehenge River Lodge op Parys gehou word.
Die Rooi Rasgeleentheid
Soos altyd sal Die Rooi Ras-geleentheid, wat die oggend plaasvind, dié plek wees vir belangstellendes in die vleisbeesbedryf om na topsprekers te luister. Hulle sal praat oor die huidige neigings in die Suid-Afrikaanse landboubedryf, asook watter geleenthede en struikelblokke in 2022 vir die beesboer voorlê. Van die sprekers sluit in die landbou-ekonoom mnr. Theo Vorster, wat altyd vir heelwat stof tot nadenke sorg.
Hoogtepunt
Hierdie veiling is altyd ’n hoogtepunt op die landboukalender. Die aanbieding van vroulike topteelmateriaal wat van reg oor Suid-Afrika kom, is iets waarna elke kommersiële en stoetteler kan uitsien. Vanjaar beloof om weer ’n spogveiling te wees, met beproefde teelmateriaal van telers uit elke provinsie in Suid-Afrika. Die standaard vir dié veiling is altyd van hoogstaande gehalte omdat die diere wat deelneem, nie net op die plaas geïnspekteer word nie, maar ook weer die dag voor die veiling.
Die voorveiling-inspeksie verseker dat die vroulike diere op die veiling funksionele, doeltreffende diere is. Dit is hierdie streng standaarde wat Bonsmara al die afgelope 58 jaar die getalrykste ras in Suid-Afrika maak. As gekyk word na die uitstekende resultate wat op ander veilings in 2021 behaal is, is dit duidelik dat die Bonsmara in groot aanvraag by beesboere is.
Dit is veral die vroulike diere wat gesog is by boere. Bonsmara SA sien ook daarna uit om besoekers vanjaar te verwelkom by ’n nuwe perseel vir die twee bogenoemde geleenthede.
Ruim nuwe perseel
Die Stonehenge River Lodge op Parys is ’n asemrowende plek wat op die oewer van die Vaalrivier geleë is. Dit het pragtige oop ruimtes met konferensiegeriewe en verblyf van wêreldgehalte. Met die uitstekende reën wat hierdie somerseisoen in die Vrystaat geval het, is dit heerlik om reg langs ’n vol Vaalrivier veiling en konferensie te hou.
Almal kuier saam
Bonsmara SA nooi almal uit om te kom saamkuier. Dit gaan beslis ’n leersame oggend wees vir almal met ’n liefde vir die landbou en veral vir beeste. Dan is daar die uitstekende aanbieding van vroulike diere wat vir enige plaas ’n waardetoevoeging sal wees, ongeag of jy kommersieel boer of reeds ’n stoetery het. Die Rooi Ras-geleentheid begin om 08:30 en die nasionale vroulikedierveiling om 12:00.