
Wat die verhandeling van beeste betref, besef Bonsmara SA en sy telers dat kommersiële kopers verreweg die grootste marksegment is. Met sowat 80% van Bonsmara-bulle wat jaarliks aan kommersiële boere verkoop word, is dit belangrik dat diere in elke streek van Suid-Afrika beskikbaar is.
Opnames deur stoetboere het bewys dat 99% van die gemiddelde stoetteler se mark binne ’n radius van 150 km van hom is. Daar is altyd die geleentheid om ’n uitsonderlike bul te verkoop aan stoettelers wat van ver gekom het vir spesifieke eienskappe van die bul, maar op alle veilings, ook topveilings, is die meeste kopers uit dieselfde gebied. Dit is ook hierdie kopers wat jaarliks terugkom en weer teelmateriaal kom koop.
As na die verspreiding van Bonsmara SA se produksieveilings in 2021 gekyk word (GRAFIEK 1), is dit duidelik dat daar in elke provinsie genoeg veilings is om die mark te bedien en seker te maak dat Bonsmara-bulle altyd vir die kommersiële boer beskikbaar is.
Koste
Dikwels wanneer in die media berig word oor goeie pryse wat op ’n produksieveiling behaal is, word daar outomaties ’n aanname gemaak dat die diere skielik onbekostigbaar geword het vir kommersiële boere.
Hou eerstens in gedagte dat geen veiling net deur stoettelers ondersteun word nie. Op alle veilings is die meeste diere aan die kommersiële mark verkoop en ’n kleiner persentasie aan stoettelers. Dit was dus kommersiële kopers wat bereid was om ’n premieprys vir ’n goeie produk te betaal.
In die verlede was die riglyn agt speenkalwers vir ’n teelbul. As ’n mens kyk na die gemiddelde gewig van die Bonsmara en die gemiddelde prys wat behaal word, blyk die volgende:
- Gemiddelde gewig van ’n speenkalf: 230 kg.
- Prys: R40/kg.
- Totaal: R9 200/speelkalf.
- Agt speenkalwers x R9 200 = R73 600.
Dit bewys net weer dat die kommersiële boer die prysbepaler is, want in 2021 was die gemiddelde prys van ’n Bonsmara-bul R73 600 vir die 2 740 bulle wat op veilings verhandel is.
Natuurlik sal daar uitskietpryse wees, want sekere bulle se teelmateriaal en eienskappe is bloot meer werd. Dat daar steeds bulle in elke koper se prysklas beskikbaar is, kan duidelik gesien word in GRAFIEK 2 , wat die verspreiding van pryse op 104 produksieveilings in 2021 toon.
Gehalte
Die eienskappe van die Bonsmara-ras is al in vele artikels uitgewys. In GRAFIEK 3 kan weer gesien word dat Bonsmara-telers seker maak bogemiddelde teelmateriaal word vir die mark beskikbaar gestel.
Die grafiek wys duidelik dat meer as 90% van die bulle wat in 2021 verkoop is, gemiddeld en bogemiddeld binne die ras was vir groei-eienskappe en speenkalfwaarde waarvoor die kommersiële boer wil selekteer. Daarom kan boere steeds met ’n geruste hart na enige Bonsmara-veiling gaan.
Mnr. Louis Steyl is die uitvoerende hoof van Bonsmara SA.
NAVRAE: Web: www.bonsmara.co.za (’n Lys van veilings in die komende maande is daar beskikbaar.)