
Omtrent elke bedryf in Suid-Afrika is die afgelope tyd geraak deur die covid 19-pandemie. Indien jy as uitvoerder nie weet waar jou vrag is of wat die toestand daarvan is as dit die hawe verlaat nie, benodig jou verskaffingsketting dalk ons hulp.
Dis belangrik dat jy weet wat die temperatuur, huidige ligging en moontlike aankomstyd van jou besending is, veral as jy na die Europese Unie of Amerika uitvoer.
Hiermee sal DeltaTrak kan help, want op die gebied van koueketting- en verskaffingsketting-oplossings is die maatskappy ’n innoveerder. Die heel jongste tegnologie word gebruik om aan alle betrokkenes onmiddellike sigbaarheid te verskaf.
Die Suid-Afrikaanse span
Die Suid-Afrikaanse afdeling van hierdie maatskappy word gelei deur mnre. Howard Hughes Frank en Erich Hugo. In Frank se loopbaan van 25 jaar het hy hom veral toegespits op verkoopsbestuur en besigheidsontwikkeling. Dit sluit in markbedrywe soos logistiek, telematika en gespesialiseerde IoT-gebaseerde sekuriteitstoepassings.
“Met meer as drie dekades se sukses in die wêreldwye IoT-, batemoniterings- en kouekettingmark het DeltaTrak ’n erfenis wat veral kliënte-ondersteuning en diensuitnemendheid insluit.
Gegewe die florerende mark vir bederfbare produkte in Afrika besef ons dit is nou die tyd om wortel te skiet en ’n ekostelsel van veiligheid vir die Suider-Afrikaanse mark te vestig,” sê Frank.
“Wat kan ons aanbied? Baie beslis volsirkeloplossings wat help om vragte te beskerm vanaf die plaas in Suid-Afrika tot op die tafel oorsee. Ons oplossings ondersteun die verbouer, die kleinhandelaar, die kliënt en almal tussenin.”
Hugo se professionele prestasies sluit in die skep van een van die eerste IoT-toestelle vir intydse (onmiddellike) temperatuurmonitering. Hugo en Frank het albei uitgebreide ervaring en ’n diepe begrip van Suid-Afrikaanse kultuur en besigheid, wat hulle in ’n goeie posisie plaas om hierdie mark te bedien.
“DeltaTrak is opgewonde oor die geleentheid om Suid-Afrikaanse boere van onmiddellike sigbaarheid van hul bederfbare besendings te voorsien. Ons 30 jaar as ’n bedryfsleier het uitgeloop op die verskaffing van oplossings om uitvoerders te help om onderbrekings in die verskaffingsketting te vermy, vermorsing te voorkom en veilige, voedsame voedsel aan verbruikers reg oor die wêreld te lewer,” sê mnr. Frederick Wu, president en stigter van DeltaTrak.
FlashTrak-wolkdiens en maritieme diens
Deur die huidige temperatuur, ligging en beraamde aankomstyd van ’n besending te verskaf, help DeltaTrak uitvoerders om vinnige besluite te neem en voorkomende stappe te doen indien iets skeefloop. Vasleggers vang temperatuur- en liggingsdata op wat beskikbaar gestel word deur die alles-in-een FlashTrak-wolkdiens.
Hierdie unieke portaal stel gebruikers in staat om temperatuur-moniteringsparameters en alarms te aktiveer, gebaseer op die spesifieke produk. DeltaTrak het toegewyde rekeningbestuurders wat kliënte deur die doeltreffendste gebruik van FlashTrak se kenmerke lei.
In die verlede het ’n uitvoerder geen inligting gehad oor ’n skip se ligging vandat dit die hawe verlaat totdat dit by die aankomshawe vasgemeer het nie. DeltaTrak se nuwe maritieme diens is spesifiek ontwikkel om onmiddellik die ligging van die vragskip op see en die beraamde aankomstyd te verskaf.
Dit bied ’n oplossing vir die onsekerheid waaronder uitvoerders voorheen moes werk. Hierdie kennis kan uitvoerders help om versekeringseise te bespoedig, en inspeksies en die afhaal van produkte deur klante te skeduleer.