
Vrugbaarheid, gehardheid, goeie temperament, geboortegemak, voldoende melk, uitstekende moedereienskappe en swaar speenkalwers. Dié eienskappe maak van die Droughtmaster ’n mediumraam-, omgewingsaangepaste dier wat funksioneel doeltreffend is.
Dit is waarom mnr. Johan en me. Sunette Strydom van Potchefstroom in Noordwes op dié ras besluit het toe hulle hul SJS Droughtmaster-stoetery begin het. “Ek is heeltyds in diens by ’n finansiële instelling as provinsiale landboubestuurder.
Deeltydse boerdery het unieke struikelblokke en ons het gesoek na ’n funksionele ras wat omgewingsaangepas is en wat by ons boerdery- en besigheidsomstandighede kon inpas. Temperament en geboortegemak is baie belangrik in sulke omstandighede,” sê Strydom, wat op huurgrond en op sy eie plaas, Witkoppiesfontein, net buite die dorp boer.
Sy soeke na die regte ras het reeds in 2010 begin toe hy betrokke geraak het by Vetvee-skoubeoordeling. “Dit het my die geleentheid gegee om die verskillende rasse te sien en te besluit waarvan ek hou.
Deur my werk besoek ek ook heelwat boere en het gou agtergekom kommersiële boere verkies ’n omgewingsaangepaste dier met hoë vrugbaarheid, ’n goeie temperament en moedereienskappe, en wat min aandag verg.
Sy moet ook elke jaar vir hom ’n swaar speenkalf speen.” Vir koeidoeltreffendheid word daarna gestreef dat ’n koei elke jaar 50% van haar liggaamsgewig moet speen. Dié doelwit is haalbaar met Droughtmaster en baie van die diere presteer baie beter as die doelwit.
Waar dit begin het
Strydom het ernstig na die Droughtmaster begin kyk toe sy pad in 2012 met dié van mnr. Johan van der Nest en sy Considerata-stoetery gekruis het. “Sy beeste het my dadelik beïndruk. Ek het hom daarna nog ’n paar keer besoek en in 2012 vir die eerste keer sy veiling bygewoon.
Die bulle se kapasiteit en eenvormigheid, asook die eenvormigheid van die kalwers wat op die erfdwang van die ras dui, het my beïndruk. Ek het besef die Droughtmaster is die ras waarna ek gesoek het.”
In 2013 het Strydom die eerste keer Droughtmaster-semen by sy Limousin-kruiskoeie gebruik. Dit was toe reeds die gebruik in die kommersiële kudde om 50 tot 60 koeie per jaar te sinchroniseer en kunsmatig te insemineer (KI).
In 2014 is ’n embriotransaksie op ’n deelgrondslag deur Considerata aangebied. Volgens die ooreenkoms kon Strydom die helfte van die kalwers hou. Uit hierdie oorspronklike embrioprogram is twee verse en drie bulle bekom.
“Ek het met twee van die bulle geteel totdat ek hulle in 2021 en 2022 onderskeidelik verkoop het. Die bulle het ’n groot impak op die kudde gehad. Die twee embriokoeie is steeds in die kudde en deel van die embrioprogram.
Ek het ook aangehou met KI en in 2019 ernstig begin met ’n intensiewe embrioprogram. “Ek gradeer my kommersiële kudde op met die gebruik van stoetbulle en geselekteerde bulle se semen.
In hierdie stadium probeer ek om minstens 50 embrio’s per jaar in te plant en met die beste beskikbare semen KI te laat doen op alle verse wat ek hou. Ons gebruik Invitro Africa vir die embrio-spoelings en inplantings.”
Die Droughtmaster-kudde bestaan tans uit 130 diere wat stoet- en aanhangseldiere insluit. “Omdat die ras só goed aangepas is, bespaar ’n boer op algemene insetkoste in die beesboerdery. Voerkrale se vraag na Droughtmaster-kalwers en -kruiskalwers oorskry die vraag by verre.
Ons het oor ’n lang tydperk ook goeie teelmateriaal van Considerata SA-kudde bekom.” Die jaarlikse Droughtmaster Genetic Exchange-veiling word op 20 Augustus om 11:00 by die Afridome op Parys gehou. Daar sal 25 koeie en verse, dragtig of met kalf, ses stoetbulle, asook semen en embrio’s op die veiling beskikbaar wees.