
Probleme met kontantvloei lei dikwels daartoe dat boere desperaat spronge neem om hul korttermynverpligtinge na te kom. Bates word verkoop of verpand, of buitensporig hoë rentekoerse deur finansiële instellings word aanvaar om die volgende ses maande te kan oorleef. Ervaring het Farm Rescue, spesialiste in die herstrukturering van skuld, geleer dat boere in die moeilikheid beland as gevolg van misoeste weens versuiping, droogte, hael en baie ander omstandighede buite hulle beheer.
Indien die boer nie verseker is nie, verkoop hy sy bates om te vergoed vir die verliese of gaan skuld aan. Dit verswak sy finansiële posisie aansienlik en maak dit moeilik om finansiering te kry. Indien hy wel finansiering kry, verhoog die koste van die lening tot 25% tot 35%. Die finansieringsmaatskappy neem ook ’n persentasie van die volgende oes om vorige skuld te vereffen.
Voordat ’n boer in só ’n situasie beland, sal hy baat vind daarby om kenners in skuldherstrukturering en sakeredding te raadpleeg. Dit is hier waar die kennis van Farm Rescue se spesialiste inkom. Hulle kan die boer ander opsies gee om uit die penarie te kom. Daarsonder is die boer uitgelewer aan dagvaardigings vir likwidasie of sekwestrasie deur die skuldeiser.
Omdat die boer reeds in ’n geldelike verknorsing is, het hy waarskynlik nie geld om so ’n aansoek teen te staan nie. Die finansiële instelling aan die ander kant wen dikwels die saak omdat hy meer geld het en nie noodwendig volgens die wet reg is nie.
Daarom sê Farm Rescue dit is belangrik dat die boer hom kontak sodra hy weet hy gaan nie sy verpligtinge kan nakom nie. Vir ’n boer om alleen die skuldeiser aan te pak, kan ’n finansiële doodsvonnis wees.
Waarom hierdie hulp aanbied?
Farm Rescue sê boere doen hul bes om voedselverskaffing te verseker in ’n omgewing waar al die verskaffers verseker is van hul winsmarge behalwe die een wat al die werk doen en al die risiko loop – die boer. As voorbeeld gebruik Farm Rescue saad wat by die boer afgelaai word. Die saad se prys is vas en is teen ’n winsmarge aan die boer verkoop.
Die boer moet betaal en die saadmaatskappy ontvang dus sy wins. Daar is egter geen waarborg dat die boer byvoorbeeld 6 ton per hektaar met die saad sal stroop nie. Dié scenario is van toepassing op alle insette. Omdat hulle hierdie dilemma verstaan, wil Farm Rescue se kundiges in boerderypraktyke, die regsgebied, finansiële wêreld, herstrukturering, sakeredding en likwidasie boere bystaan.
Farm Rescue se doelwitte is as volg:
¦ Om boerderye se winsgewendheid te hervestig.
¦ Om die boer by te staan in sy strewe om voedselsekerheid in die land te beskerm.
¦ Om uitbuiters verantwoordelik te hou en boere teen diegene te beskerm.
Maak só
Om Farm Rescue se hulp in te roep, is maklik. Al wat ’n boer hoef te doen, is om ’n afspraak te maak. Die eerste konsultasie is gratis. Daartydens word ’n oorsig oor sy boerdery verkry en Farm Rescue stel vas hoe en of hy kan help. Verdere stappe en opsies word dan bespreek met boere wat daarvoor in aanmerking kom. Die boere is onder geen verpligting om die raad of aanbevelings te volg nie.