
Hilux (V8 16-85) is die enigste Beefmaster- bul wat in 2022 vir meer as R1 miljoen in Suid- Afrika verkoop is. Hy het in Oktober ’n prys van R1,4 miljoen op die agtste Kalahari Beefmaster-produksieveiling op Vryburg behaal. Hierdie prestasie maak van Hilux ’n ware uitblinker in die Kaingo- boerdery van Bray se V8-Beefmasterstoetery.
“Hilux is een van die beste Beefmaster-bulle ter wêreld,” sê mnr. Paul van Vuuren, eienaar, asook uitvoerende hoof van die lewendehawe-afslaer André Kock en Seuns. Sy seun Paul jr. bedryf die stoetery saam met hom.
Paul sr. sê Hilux is die perfekte bul ten opsigte van vleiseienskappe. Hy is ’n mediumraambul wat baie vleis in sy binne- en buitedye dra. Die bul het besonderse diepte en breedte, ’n goeie nekaansluiting, en ’n sterk bek en manlike oogbanke.
“Hilux is ontsettend vrugbaar met sowat 1 000 semenstrooitjies per tapping. Dié bul is ’n beproefde kuddevaar – wat ’n groot rol speel in die koop van ’n teelbul.”
Paul sr. sê hulle is baie sentimenteel oor Hilux omdat hy so ’n groot impak op hul stoetery gemaak het. “Ons glo egter daaraan om ons ‘kampioene’ vir ons driejaar-teelprojek te gebruik en hulle dan te verkoop om aan ander boere die geleentheid te bied om van hierdie uitstekende beeste in hul kuddes te gebruik.”
Hilux se kopers was mnre. Richard Aucamp, Casper Aucamp en Hanré Maree van AMB Beefmaster by Rustenburg. Hulle gaan Hilux hoofsaaklik vir kunsmatige inseminasie gebruik om ’n grondslagkudde op te bou.
Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat die Van Vuurens ’n bul teen puik pryse verkoop. Hulle het verlede jaar New York vir R1,4 miljoen aan mnre. Hannes en Willie Becker van Keerkring Beefmaster by Mogwadi (Dendron) verkoop.
“Dit is ’n bewys dat boere bereid is om ’n premieprys vir goeie teelmateriaal te betaal.”
Dit is ook weerspieël in die resultate van dié produksieveiling. Hilux was die duurste stoetbul op die veiling. Die naasduurste bul is vir R500 000 aan mnr. Anthony en me. Kim Duarte van Ndutu Bushveld Beefmasters op Modimolle verkoop. Nóg ’n bul is deur mnr. Theo Coetzee van Majesto Beefmasters van Koster vir R475 000 gekoop. Die gemiddelde prys vir bulle was R193 000.
Die vroulike diere het net so goed gevaar, met die duurste koei met kalf wat vir R120 000 verkoop is aan Ndutu Bushveld Beefmasters.
Die negende Kalahari Beefmaster- produksieveiling vind op 13 Oktober 2023 om 11:00 op Vryburg plaas.