
VKB se benadering tot boerdery-ontwikkeling behels hoofsaaklik die vestiging van volhoubare boerderye wat op hul eie bene kan staan. Teen hierdie agtergrond is VKB Landbou-Ontwikkeling tans betrokke by sowat 120 boere in die Oos-Vrystaat en Limpopo met gewas- en veeprojekte.
Landbou-Ontwikkeling is deel van die VKB-groep wat ’n wye verspreiding in Limpopo en die Oos-Vrystaat het, met sy hoofkantoor op Reitz. Deur VKB se wye netwerk handel- en meganisasietakke, en graanleweringspunte word toeganklikheid vir nuwe-eraboere verseker en word volledig in behoeftes voorsien. Met VKB se historiese en voortgesette betrokkenheid is dit nie vreemd dat verskeie nuwe-eraboere wesenlike suksesse behaal en die grens na kommersiële boerdery begin oorsteek en volhoubaar boer nie.
Die benadering met VKB se ontwikkelingsprogramme is om boere te ondersteun met ’n volledige pakket, wat uit insetverskaffing (met die samewerking van belanghebbendes), finansiering, opleiding, mentorskap en bemarking bestaan. ’n Belangrike komponent hiervan is om boerderye met finansiering en tegniese advies deur middel van deeglike seisoenbeplanning met begrotingskontrole te ondersteun.
Aangesien volhoubaarheid en die geheelplaasbenadering kernbelangrik is, word nuwe-eraboere dus ook met struktuur- en grondkundige verbeterings soos kontoere en kalktoedienings, asook met meganisasiebehoeftes ondersteun. Sonder hierdie bykomende ondersteuning sal produksie en groei op lang termyn nie volhoubaar kan gedy nie.
Met hulp van Mentors
Met plaasvlakbetrokkenheid van VKB-mentors word die boer ondersteun met alles wat op die plaas gebeur. Die boer ontwikkel die beste deur dit wat hy leer, self te doen en toe te pas. VKB se landboukundige en bemarkingsdienste met die samewerking van kommersiële boere (deelsaai-ooreenkomste) is verdere voorbeelde van VKB-ondersteuning, wat van deurslaggewende belang is vir nuwe-eraboere se sukses.
Vir insetaankope word boere aan insetverskaffers binne die bedryf blootgestel en geadviseer, maar die keuse van watter produk om te gebruik, berus by die boer. Insetblootstelling leer die boer om onderskeidend en met selfvertroue keuses te maak.
Die finansieringsrisiko by hierdie boere is gewoonlik hoog, aangesien verreweg die meeste van die boere nie oor sekuriteit beskik nie. Die klem val dus sterk op deeglike finansiële beplanning en begrotingskontrole.
Samewerking en vennootskappe
VKB het ’n leidende rol gespeel om ’n plaaslike sentrum vir PALS (Partners in Agri Land Solutions) in die Vrystaat te vestig. SA PALS is ’n nasionale beweging wat daarna streef om samewerking en vennootskappe tussen kommersiële en nuwe-eraboere te bevorder en verhoudings op grondvlak tussen die twee sektore uit te brei.
Die regering, landboubesighede en finansiële instellings is met omvattende ondersteuningsprogramme deel van die PALS-inisiatief. Wat PALS uniek maak, is dat die konsep deur boere vir boere ontwikkel is en dat mentorskap ’n onmisbare bousteen vorm en bly.
VKB het ’n langtermynvisie om in die toekoms ’n relevante rol binne die hervorming van die plaaslike landboubedryf en boerdery-ontwikkeling as geheel te vervul. VKB beskik oor die kennis, ondervinding, vaardigheid en kapasiteit om doeltreffend hierdie rol te vervul en ’n opbouende verskil binne die landbousektor te maak.
Mnr. Albert Kriek is ’n senior landboukundige by VKB Landbou-Ontwikkeling.