
Klein marges maak die grootste verskil in boerdery, en die Beefmaster is in staat om enige boer ’n voorsprong te gee. Só meen mnr. Tabbie du Plessis van die plaas Stirling by Bethlehem in die Vrystaat, tuiste van die Janmarck Beefmaster-stoetery. Hy bestuur dié stoetery saam met sy broers, Bismarck en Jannie.
Vir die Du Plessis-broers is die inkomste uit speenkalwers uiters belangrik. Sedert hulle met Beefmasters boer, het die speengewig in hul kudde met 15 kg tot 20 kg toegeneem. “Met die kommersiële kudde het ons vroeg gesien dat bulle met die beste moeders die beste kalwers en vervangingsverse produseer,” sê Du Plessis.
Hy sê hy en sy broers het baie navorsing oor verskeie rasse gedoen voordat hulle op die Beefmaster besluit het. “Die kommersiële verse wat ons by Beefmasters-bulle gesit het, het geen kalfprobleme gehad nie. Wat speen betref, was die Beefmaster-kalwers egter swaarder as dié van al die ander rasse.”
Die broers gebruik enkelbulparings en kunsmatige inseminasie in die kudde. Wanneer bulle gebruik word, doen hulle DNS-toetse op die kalwers om die vaar te bevestig.
“Met hierdie metode kan ons die beeste noukeuriger klassifiseer en die regte diere met mekaar paar om die beste kalwers te kry,” sê Du Plessis. Janmarck Beefmasters se volgende jaarlikse veiling vind op 28 Julie op die plaas Stirling plaas.