
Die maatskappy Food Safety Agency (Edms.) Bpk. is in 2016 deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling as ’n gevolmagtigde aangestel ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990). Dit is om die gehalteregulasies toe te pas wat geld vir pluimveevleis (R.946 van 27 Maart 1992), eiers (R.345 van 20 Maart 2020) en enige ander vleis en vleisprodukte, en spesifiek verwerkte vleisprodukte (R.1283 van 4 Oktober 2019).
Die Food Safety Agency (Edms.) Bpk., wat in 2013 gestig is, is ’n onafhanklike maatskappy met ’n gevestigde nasionale teenwoordigheid in al nege provinsies van Suid-Afrika.
Doel van wet
Die doel van die Wet op Landbouprodukstandaarde is om die verkoop en uitvoer van sekere landbouprodukte en die verkoop van sekere ingevoerde landbouprodukte en ander verwante produkte te beheer. Om die vereistes van ’n produk ingevolge die regulasies en die wet te verifieer, voer die gevolmagtigde inspeksies uit op pluimveevleis, eiers en verwerkte vleisprodukte, soos geproduseer en verpak deur produsente en herverpakkers.
Inspeksies vind op verskeie plekke plaas (produsente, herverpakkers, kleinhandelaars en slagplase) om deurlopende hoë gehalte van die produk regdeur die waardeketting te verseker. Dit stel verbruikers in staat om “te kry waarvoor hulle betaal”. In 2021 het die Food Safety Agency (Edms.) Bpk. altesaam 3 705 inspeksies uitgevoer.
Dit sluit in 1 386 inspeksies op pluimveevleis, 1 160 op verwerkte vleisprodukte en 1 159 op eiers.
Bepalings
Daar is ’n totaal van 217 bepalings, ’n dokument met bepalings wat uitgereik is vir ’n produk wat nie aan regulasies voldoen nie, vir pluimveevleis in gebiede soos abattoirs, kleinhandelaars en invoer. Wat verwerkte vleisprodukte betref, is ’n totaal van 185 bepalings vir plekke soos kleinhandelaars en produksie-aanlegte uitgereik. Vir eiers is 221 bepalings uitgereik. Dit is duidelik dat eiers die kommoditeit is wat die minste aan regulasies voldoen en die meeste weerstand bied wat inspeksies betref.
Afwykings
Afwykings by eiers wat tydens inspeksie gevind word, sluit in fekale materiaal op eiers (vuil eiers), gekraakte eiers en eiers wat “bloedvlekke” bevat. Afwykings word ook gevind wat betref verpakking of merkvereistes, soos verkeerde aanduiding van grootte of graad, geen adres van die eierprodusent en geen kontakinligting nie.
Ná die gevolmagtigde se sukses ná ’n lang hofstryd tussen belanghebbendes (produsente en verteenwoordigers), asook die eierbedryf, die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die gevolmagtigde, meen die Food Safety Agency (Edms.) Bpk. dat die veiligheid en gehalte van produkte nou belangriker as ooit is.
Die uitslag van die hofsaak sal die maatskappy in staat stel om sy omvang van inspeksies in die eierbedryf te verbreed om gelyke en regverdige deelname aan die vereistes van die Wet op Landbouprodukstandaarde te verseker. Aangesien pluimvee en eiers ongeveer 59% van Suid-Afrika se proteïenverbruik behels, spreek die behoefte aan inspeksies ingevolge die wet vanself.
Die Food Safety Agency (Edms.) Bpk. doen ’n beroep op die publiek om enige bevindings of klagtes by die gevolmagtigde aan te meld by 012 361 1937, e-pos: info@afsq.co.za.