
Miravis® Neo is ’n uitsonderlike formulasie van drie aktiewe bestanddele, naamlik Adepidyn™-tegnologie, Amistar®-tegnologie en propikonasool. Elk het ’n unieke metode van werking en saam is hulle ’n gedugte span teen vaalblaar (Septoria spp.) by koring, en poeieragtige meeldou (Blumeria graminis) en roes (Puccinia spp.) by koring, gars en hawer. By gars en hawer is Miravis® Neo ook geregistreer vir die voorkomende bekamping van netvlek (Pyrenophora teres) en blaarvlek (Rhyncosporium secalis) en, in kombinasie met Bravo®, ramularia-blaarvlek (Ramularia collo-cygni).
Adepidyn™-tegnologie is die ruggraat van Miravis® Neo. Hierdie nuwe generasie chemikalie in die karboksamiedgroep is deur Syngenta ontwikkel en toon uitsonderlik hoë doeltreffendheid teen relatiewe lae dosisse by ’n wye verskeidenheid patogene. Danksy hierdie tegnologie bied Miravis® Neo landurige bekamping van die vernaamste blaarsiektes wat kleingraan teister.
Adepidyn™-tegnologie word ná toediening vinnig in die plant se waslaag opgeneem en vorm ’n reservoir van waar dit geleidelik deur middel van die xileem oor ’n lang tydperk deur die plant versprei word.
Voorkoming maak die verskil
Swamdoders verhinder swaminfeksies beskerm plantgesondheid en verhoog opbrengs. Laasgenoemde word veral bereik deur te verseker dat kleingrane se vlagblaar genoeg koolhidrate produseer vir optimale graanvul.
Die vlagblaar ontwikkel en funksioneer egter nie in isolasie nie. Die plant se opbrengspotensiaal word reeds in die vegetatiewe groeistadium vasgelê. Ten einde optimale vegetatiewe groei te verseker, moet die blare van vroeg af beskerm word sodat fotosintese nie tydens enige stadium belemmer word nie.
Dít is presies die rol wat ’n doeltreffende en langwerkende swamdoder soos Miravis® Neo speel. Pleks daarvan om te wag tot simptome verskyn, moet Miravis® Neo voorkomend toegedien word om te keer dat onherstelbare skade aangerig word en die plant te veel van die energie wat aan plantontwikkeling gewy moes word, afstaan om siektes te beveg.
Holistiese weerstandbestuur
Voorkomende beheer is ook ’n wapen teen die opbou van weerstand. Wanneer genesend opgetree word, kan die swambesmetting reeds groot genoeg wees om individue met natuurlike weerstand in te sluit.
Weerstandbestuur berus op die gebruik van produkte met verskillende metodes van werking. Met sy kombinasie van drie aktiewe bestanddele is Miravis® Neo ‘n doeltreffende komponent van ’n weldeurdagte weerstandbestuurprogram wat produkte uit verskillende FRAC-chemiegroepe afwissel.
Alleenlik deur die opbou van weerstand te vertraag en selfs heeltemal te voorkom, kan verseker word dat Miravis® Neo nog vir vele toekomstige seisoene kleingrane groen en gesond sal hou.
Miravis® Neo beskerm kleingrane teen ’n wye verskeidenheid swamsiektes en verseker sodoende dat energie vir graanvul aangewend word ten einde hoër opbrengs te lewer. Die resultaat is ’n verskil wat duidelik sigbaar is.
Lees die produketiket vir volle besonderhede
MIRAVIS® Neo bevat ADEPIDYN™ tegnologie (pydiflumetofen), asoksistrobien en propikonasool (Reg. Nr. L11102, Wet 36 van 1947). SKADELIK.
MIRAVIS® Neo is ‘n geregistreerde handelsmerk van ’n Syngenta Groepmaatskappy. Syngenta Suid-Afrika (Edms) Beperk, Privaatsak X60, Halfway House, 1685. Tel. (011) 541 4000. www.syngenta.co.za © Syngenta Ag, 2000. Kopiereg van hierdie dokument is voorbehou. Alle onregmatige kopiëring word verbied.
Francois van Deventer is ’n swamdoderdeskundige van Syngenta.