
Hino se 300-reeks modelle is al jare lank onder die leiers op die laaslike mediumvragmotormark. Die omvattende reeks en mededingende ryse bied nou 13 afgeleide modelle met bak- en loonvragvermoëns van 3 390 kg tot 5 950 kg, wat basies die 2,5 ton-, 3 ton- en 4 ton-markte dek. Die 300-reeks is ’n sleutelspeler in verskeie toepassings, waaronder die vervoer van kontant, snel- en oornagaflewerings, verkoelde vragvervoer, asook die bakkerybedryf. Die kajuite is gewild onder konstruksiemaatskappye en munisipaliteite.
Die groot nuus is dat ’n ten volle outomatiese sesgang-ratkas nou oor die hele 300-reeks aangebied word, waar dit voorheen slegs in sekere modelle beskikbaar was ná ’n beperkte bekendstelling in 2015. Die “intelligente” outomatiese Hino het ’n brandstofbesparende wringkragomsetter-sluit-stelsel in vyf verhoudings – van tweede tot sesde rat.
Hierdie opsie word nou uitgebrei na die 714 Crew Cab-, 916 LWB- en 916 Crew Cab-modelle. Die beskikbaarheid van die outomatiese sesgangratkas in 916-modelle volg op versoeke van vlooteienaars en word beskou as ’n belangrike toevoeging tot ’n reeds omvattende Hino-mediumvragmotorreeks.
Daar is ook nuwe handratkaste, met sommige modelle wat brandstofbesparende sesgang-eenhede kry, terwyl ander die vyfgang behou, wat ook nou ’n nuwe model is met hersiene en geoptimaliseerde verhoudings.
Die brandstoftenkgrootte vir die 916-modelle styg van 100 liter tot 150 liter, wat groter bruikbare reikwydte bied. Nog ’n waardevolle verbetering op modelle met ’n handratkas is die aanbring van heuwelhulp (Easy Start) om te keer dat die vragmotor agteruit rol wanneer dit teen ’n helling wegtrek.
Ekstern is daar dagryligte en hersiene voorste roosterpanele op alle modelle, terwyl die Narrow Cab-modelle nuwe hoofligte en ’n veranderde voorste buffer kry. Binne die kajuit is die verandering ’n hersiene instrumentpaneel met groter spoedmeter en toereteller wat makliker leesbaar is. ’n Radio met Bluetooth-funksie dra met die handvrye funksie by tot veiligheid.
“Ons is ongelooflik bly dat ons nou ’n bygewerkte en hersiene Hino 300-reeks het wat daarop gemik is om aan die uiteenlopende klantvereistes in baie bedryfsituasies in Suid-Afrika te voldoen,” sê mnr. Pieter Klerck, hoofbestuurder van Hino Suid-Afrika.
“Ons glo ons bied nou ’n volledige vervoeroplossing in die mediumvragmotormarksegment. Al ons modelle het uitstekende vlakke van standaardtoerusting – waaronder veiligheidskenmerke – gerugsteun deur die beste naverkopediens tans in die Suid-Afrikaanse vragmotorbedryf. Hino het boonop ’n jare lange trotse reputasie vir gehalte, duursaamheid en betroubaarheid – die handelsmerk se DNS.
“Hino bied sy klante in Suid-Afrika egter veel meer as hersienings aan ’n gewilde mediumvragmotorreeks. Die handelsmerk en sy handelaars was onlangs vir die negende keer die afgelope 11 kwartale nommer 1 in die algehele DATATrack-graderings, ’n kwartaallikse opname van verkope, onderdele en tegniese diens wat deur ’n groot paneel vragmotorvlooteienaars gedoen word.
“Ons het onlangs HINOCONNECT bekend gestel, ’n volledige telematiese vlootbestuuroplossing wat nou standaard is in alle Hino-vragmotors wat by ons aanleg in Prospecton, buite Durban, gemonteer word. Hierdie jongste belangrike voordeel vir ons klante volg op die bekendstelling verlede jaar van ’n reeks diens- en instandhoudings lanne met mededingende pryse wat aangepas kan word om by ’n klant se spesifieke behoeftes te pas,” voeg Klerck by.
Mnr. Ernie Trautmann, vise president van Hino Suid-Afrika, sluit af: “Ons bly gedrewe deur Hino se internasionale strategie van totale ondersteuning, wat die bou van betekenisvolle verhoudings tussen Hino Japan, Hino Suid-Afrika, ons span by die hoofkantoor in Sandton, ons landwye handelaarsnetwerk, ons verskaffers en diensverskaffers en, bowenal, ons klante behels. Dit is ’n bewese resep wat steeds vrugte afwerp by alle Hino-bedrywighede wêreldwyd. Ons voortgesette prestasies in Suid-Afrika spruit uit die nakoming van hierdie filosofieë en beginsels.”