
Gekrummelde hoenderprodukte wat vinnig en maklik voorberei kan word en boonop heerlik smaak, word wêreldwyd al hoe gewilder omdat verbruikers se leefstyl toenemend besiger raak. Die vraag na kos wat gerieflik, vinnig en maklik voorberei kan word, het hieruit ontstaan.
Weens covid-19 is daar steeds baie kinders en tieners wat tot ’n groot mate nog tuis “skoolgaan”, wat ’n definitiewe rol speel in die vraag na kossoorte wat maklik is om voor te berei en as peuselkos voorgesit kan word.
Nog ’n neiging wat nie geïgnoreer kan word nie, is die verhoogde vraag na etes en snoephappies wat in ’n lugbraaier voorberei kan word. Die Grain Field Chickens-produkte is met hierdie feit in gedagte ontwikkel, want die verbruiker kan ’n bros produk met ’n lugbraaier voorberei, hoewel konvensionele gaarmaakmetodes ook gebruik kan word.
Die nuwe Grain Field Chickens-produkte bied ’n vinnige en maklike plaasvervanger vir restaurant- en wegneem-etes. Dit kan ook maklik voorberei word vir peuseltyd, middag- en ook aandetes.
Hierdie produkte sal saam met ander bevrore produkte in die vrieskaste in die kleinhandel verkoop word.
Grain Field Chickens-produkte en diensgehalte is ononderhandelbaar. Die maatskappy glo in plaaslike produkte, plaaslike werkskepping en waardeskepping vir die Suid-Afrikaanse verbruiker. Sy plaashoenders word met net hoëgehalte-braaihoendervoer gevoer en grootgemaak in ’n stresvrye omgewing sodat hulle vars en gesonde Suid-Afrikaanse pluimveeprodukte kan lewer.
Grain Field Chickens handhaaf drie goeie ou sakebeginsels: eerlikheid, kommunikasie en respek. Hierdie tradisionele waardes het die maatskappy nog altyd getrou gehou aan sy missie, naamlik om die voorkeur-pluimveehandelsmerk in Suid-Afrika te wees.