
Tydens die Son-Safari-landbouskou gaan wêreldklas-landbousprekers toesprake hou. Tussen die spreeksessies kan boere na landbou-uitstallings gaan kyk waar die nuutste tegnologie ten toon gestel word. Daar sal ook baie netwerkgeleenthede en kans vir vrae vra en persoonlike gesprekke met die kenners wees.
Die skou sluit in vyfsterverblyf, allesingesluit drankiepakket (nie premium), die Afrikaans is Groot-musiekproduksies, motiveringsprekers en die geleentheid om met glanspersoonlikhede te skakel. Vir die res van die gesin sal daar heelwat vermaak en baie, baie meer verskaf word.
Sê jou sê
Topsprekers gaan oor ’n verskeidenheid onderwerpe gesels wat vir elke boer op die skou nuttig sal wees.
Dr. Todd Cardwell is ’n landboukundige uit Amerika. Hy is ’n kenner van spuittegnologie en hoe om dit korrek toe te pas is.
Mnr. Erik de Vries is die direkteur van Agri Technovation. Hy is ’n topkenner van die nuutste landboutegnologie, presisieboerdery en die voordele wat dit vir elke produsent kan inhou.
Dr. D’Wall Hauptfleisch is ’n veearts en kenner van plaasbestuur. Sy spreekgeleentheid gaan handel oor kennis en kundigheid in die biosekuriteitarea.
Mnr. André Fox is die uitvoerende hoof van Madumbi Sustainable Agriculture. Hy gaan konsentreer op biologiese produkte, neigings in die mark, chemiese produkte en die behoefte aan verandering.
Mnr. Ernst de Beer het ’n uitgebreide kennis van gewasbeskerming en geïntegreerde plaagbestuurprogramme. As kenner van sitrusplaagmonitering is hy medeskrywer van die Laeveld Scout sitrusgids.
Mnr. Theo Vorster is ’n kenner van landbousake en die Suid-Afrikaanse ekonomie. Vorster en sy span gaan konsentreer op grond- en waterregte, die bestuur van ’n familieboerdery, buitelandse diversifikasie, kredietaansoeke en die toekoms van die landbou in Suid-Afrika.
Dr. Ruben Richards is ’n sitrusboer en nuut verkose burgemeester van die Cederberg-munisipaliteit in die Wes-Kaap. Hy gaan deelneem aan besprekings saam met Vorster oor die pad vorentoe en moontlike scenario’s vir Suid-Afrika.
Mnr. George Robertson is ’n regskenner. Hy gaan in besprekings saam met Vorster konsentreer op grond- en waterregte, die familiehandves en prosedures vir kredietaansoeke en buitelandse diversifikasie.
Mnr. Roelf van der Merwe is ’n regskenner. Hy gaan in besprekings saam met Vorster konsentreer op grond- en waterregte.
Mnr. Athol Trolip fasiliteer kleinboerprojekte. Hy gaan gesels oor die vooruitsigte van die landbou in Suid-Afrika en hoe om te konsentreer op ’n beter toekoms.
Mnr. Bennie Engelbrecht gaan gesels oor alles wat handel rondom saffraanverbouing, opsies vir diversifikasie en hoe om ’n proeflopie op jou plaas te doen.
Mnr. Kobus Hurter konsentreer op kleinboerontwikkeling, met beginnerpakke, opleiding en ondersteuning in Suider-Afrika. Hurter bied ook geleenthede waar produsente betrokke kan raak.
Daar gaan ook op eiendomme en beleggings gekonsentreer word waartydens inligting en agtergrond oor eiendom en beleggings in Mauritius gegee word.
Kom luister na toplandboukenners en aanbiedings oor die nuutste in die landboubedryf.
Daar gaan baie tyd wees vir vrae en persoonlike gesprekke.