
Die SA Boerperd-telersgenootskap vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar, en daar word groot feesvieringe beoog vir die feesjaar. Dit is nie net die ideale geleentheid om terug te kyk na die verlede nie, maar ook om na die pad vorentoe te kyk – en dis ’n blink toekoms. Om die jaar mee af te skop, het drie SA Boerperde, in drie verskillende kampioenskaptipes die Supreme-kampioenskapprys by Horse of the Year 2023 gewen. Dié byeenkoms is by Kyalami Equestrian Park in Gauteng gehou. Dit is ’n uitsonderlike prestasie. Tydens die skou ding 16 perderasse eers as rasse teen mekaar mee om hulle raskampioene aan te wys. Die kampioene dring dan deur na die Supreme-kampioenskappe om die wenner van onderskeie kampioenskapstipes te kies.
Volledig inheems
Die SA Boerperd is tans die enigste volledig inheems ontwikkelde perderas in Suid-Afrika – ’n eg Suid-Afrikaanse perd. Dit beteken dat geen deelsgeteelde perde en perde van ’n ander ras in die SA Boerperd-stamboek toegelaat word nie. Met geboorte word ’n vul by SA Stamboek aangeteken. Die DNS word deur Unistel vasgestel en teen dié van die vaar en moer gemeet om ouerskap te verifieer. Só ’n vul is egter nog net ’n aangetekende perd, en nie ’n geregistreerde perd nie.
Vanaf tweejarige ouderdom moet elke aangetekende perd deur ’n keuringsproses gaan waarin konformasie en beweging teen die rasstandaard gemeet word. Om gekeur te word, is die minimum hoogte van hingste 14.2 hand en merries 13.3. Daar is nie ’n hoogtebeperking nie. Perde wat gekeur is, word daarna gebrandmerk met die stempel van gehalte: ’n B in ’n perdehoef op die regterboud. Die perd se status verander dan eers van “aangeteken” na “geregistreer”. SA Boerperde kom in verskeie kleure voor, naamlik swart, alle skakerings van bruin, vos, blou, geel en skimmel.
Die SA Boerperd is welbekend vir sy gematigde temperament en gehardheid. Hulle beweeg met lang, elastiese treë wat grond dek, vandaar die rygemak. Dié intelligente en veelsydige perd is geskik vir ruiters van jonk tot oud en neem aan ’n wye verskeidenheid perdrydissiplines deel. Dit sluit in skou (showing), dresseer (dressage), skouspring (show jumping), drie-fasesport (eventing), uithouritte, ens. Gedurende die nasionale kampioenskap van die SANESA-liga in 2022 het die pragperd homself weereens bewys. Die SA Boerperde was die grootste rasegte perderas wat aan hierdie skoleliga deelgeneem het. In die klasse waaraan hulle deelgeneem het, het sowat 80% van daardie perde in hul onderskeie klasse die algehele top-20 gehaal. In die hoër- en laerskoolafdeling was die wenners van die onderskeie victor ludorums ook SA Boerperde.
Tydens SA Boerperd-skoue waar ruiters en perde van alle ouderdomme deelneem, word die klasse in twee afdelings verdeel, naamlik tradisioneel en universeel. Die tradisionele perde sluit driegang- en vyfgangperde in en het matige tot hoë beweging. Universele perde ry net driegang, en het matige tot laer beweging. Albei afdelings sluit ook tuigklasse in. SA Boerperd-skoue is nie beperk tot telers nie, maar alle geregistreerde SA Boerperde kan ingeskryf word. Die ruiters is kosbaar, want hulle is ook ambassadeurs van die ras.
Stoeterye regoor die land
Daar is tans 2 412 perde by SA Stamboek aangeteken. Sowat 120 stoeterye is versprei deur Suid-Afrika, Namibië, Mosambiek en Swaziland, waar talle perde ook deur toeriste as plesierperde gery word. Met die perde wat geredelik beskikbaar is, is dit nie vir perderuiters nodig om ingevoerde perde ten duurste te koop nie. Dieselfde gehalte perde is net hier, Trots Suid-Afrikaans, beskikbaar: sportperd, plesierperd en werksperd – alles in een.
Byeenkomste om na uit te sien:
- 30 Maart tot 1 April 2023: Vrystaat-skou, Senekal-skouterrein. Navrae: Mnr. Michiel Burger 082 674 9595.
- 22 April 2023: Sentrale hingskeuring, Standerton. Tydens hierdie geleentheid word sowat 37 hingste voor keuring gebring. Navrae: Mnr. Frikkie Combrink 083 324 2524.
- 16 Junie 2023: Sterhings-veiling, WhatsApp. Die dekkings van SA Boerperd-hingste word opgeveil. Navrae: Dr. Petro Grové 082 551 322.
- 26 Junie – 1 Julie 2023: Nasionale kampioenskap, Parys Afridome. Navrae: Mnr. Michiel Burger 082 674 9595.