
Nie alleen het die internasionale toonaangewende vereniging vir MBA’s, die Association of MBAs (AMBA), die MBA-akkreditasie van die NWU Besigheidskool hernu nie, maar die skool is nou amptelik die eerste skool op die Afrika-vasteland wat die internasionale akkreditasie van die Business Graduates Association (BGA) ontvang het.
Dit volg op ’n onlangse virtuele besoek aan die NWU Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit (NWU) deur paneellede van die AMBA, waarby die BGA geaffilieer is. Die doel van die besoek was om die skool vir die toekenning van internasionale akkreditasie te evalueer. Volgens prof. Jan van Romburgh, hoofdirekteur van die NWU Besigheidskool, het die skool ook daarin geslaag om nog ’n vyfjaar- internasionale akkreditasie vir sy MBA-kwalifikasie te verseker.
Van Romburgh sê dit is ’n groot mosie van vertroue deur die BGA. “Die AMBA-akkreditasie dui die hoogste standaard van prestasie in nagraadse besigheidsopleiding aan. Slegs 2% van die erkende besigheidskole reg oor die wêreld het AMBA-akkreditasie. Ons is trots daarop om een van hulle te wees.”
Wie is die AMBA?
Die vereniging van MBA’s (AMBA) staan al meer as 50 jaar lank aan die spits van uitnemende innovasie en is ’n baanbreker op die gebied van onpartydige gesag oor nagraadse bestuursopvoeding. Die AMBA is die enigste professionelelidmaatskapsvereniging wat MBA-studente en -gegradueerdes, geakkrediteerde besigheidskole en MBA-werkgewers reg oor die wêreld met mekaar verbind.
Wat is akkreditasie?
Akkreditasie sertifiseer dat ’n instelling die vermoë het om ’n bepaalde funksie binne die gehalteversekeringstelsel te vervul. Die AMBA se akkreditasie word elke vyf jaar hersien en die omvang en reikwydte daarvan is internasionaal.
Hy werk saam met senior akademici by voorste wêreldwye opvoedkundige instellings om akkreditasiebeleide deurlopend by te werk en hul unieke, grondige en gedetailleerde benadering in stand te hou. Programme wat hierdie akkreditasie ontvang, weerspieël veranderende neigings en innovasie in die sektor vir nagraadse onderwys. Dit bevorder innovasie en moedig besigheidskole aan om deurlopend op die hoogste vlak te presteer.
Waarom is dit so belangrik?
Studente en gegradueerdes, besigheidskole en werkgewers erken almal die AMBA- en BGA-akkreditasie as ’n standaard. Die streng akkreditasiekriteria en evalueringsproses verseker dat slegs die beste programme akkreditasie ontvang. Die akkrediteringsliggame kyk na programme wat die hoogste standaarde in onderrig, leer en kurrikulumontwerp; loopbaanontwikkeling en indiensneembaarheid; en studente-, alumni- en werkgewerinteraksie handhaaf.
Werkgewers wat innoverende bestuurders en toekomstige sakeleiers wil lok, weet dat gegradueerdes van geakkrediteerde programme die mees relevante bestuursopvoeding van die beste gehalte ontvang het.
Die AMBA-akkreditasie identifiseer die beste programme uit die duisende wat beskikbaar is, en die ontwikkelende aard van die proses help NWU om potensiële tekortkominge raak te sien. AMBA verskaf ’n omvattende verslag met gedetailleerde aanbevelings vir potensiële verbeterings vir die toekoms.
Wat beteken dit vir MBA-studente by NWU Besigheidskool?
Werkgewers vra toenemend vir gegradueerdes met besigheidsgrade wat ’n balans tussen harde en sagte vaardighede en innoverende vermoëns het en ’n groter maatskaplike verantwoordelikheid toon. NWU kan waarborg dat sy studente wat ’n MBA of Nagraadse Diploma in Bestuur verwerf het, hierdie eienskappe en vaardighede by hul werkplek sal toepas, en ’n lewensvatbare bydrae tot hul maatskappy sal lewer.
“Vir ons MBA-gegradueerdes bied akkreditasie die geleentheid om met eweknieë van die beste MBA-programme wêreldwyd te skakel.”
Besoek https://www.facebook.com/NWUBusinessSchool/videos/337838344438189 vir nog inligting.