
Die Huntersvlei-Sussex-kudde is met rede een van die bekendstes in Suid-Afrika. Nie net is dit die oudste geregistreerde Sussex-kudde in Suid-Afrika nie, maar die stoetery het al ’n reeks gouebekerwenners op die Randse Skou, Vryburg-skou en Royal-skou opgelewer. Met vanjaar se Royal-skou het die raskampioene van albei geslagte uit dié stoetery gekom.
Die Huntersvlei-bul wat as raskampioen aangewys is, kom uit ’n bloedlyn wat gesamentlik ses goue bekers in vier geslagte gelewer het. Voeg hierby die feit dat Huntersvlei die afgelope twee jaar die hoogste gemiddelde prys vir bulle behaal het van alle Sussex-produksieveilings en dis te verstane waarom sy veiling jaarliks groot aandag trek.
Vanjaar se veiling begin Augustus beloof om weer ’n hoogtepunt te wees, met 30 twee jaar oue Sussex-bulle wat te koop gaan wees.
“Ons kudde is byna volledig ge-genotipeer, insluitend al die bulle wat aangebied word,” sê mnr. Enrico Cronjé, plaasbestuur van Huntersvlei.
Genomika word hoofsaaklik gebruik om verwantskappe en gewenste gene te identifiseer om teelbesluite akkuraat uit te voer en ongewenste eienskappe, soos dubbelbespiering, uit te skakel.
Die Huntersvlei-kudde is 50% poenskop en 50% horing. Die poenskopgene kom van semen wat in 2008 en 2011 vanaf Engeland ingevoer is. Die poenskopgene word met genomiese toetse bevestig om geenvaslegging te verseker en teelbesluite te rig.
Gevestigde kudde
Die Huntersvlei-stoetery bestaan al 77 jaar, nadat dit in 1945 deur mnr. Rhys Evans geregistreer is. Die eerste 12 fondasiekoeie is by sy broer mnr. Bruce Evans gekoop wat op daardie stadium die Shackleton Sussex-stoetery op die buurplaas bedryf het. Enkele ander koeie is by die uitverkoping van die Smartt Sydicate-kudde in Britstown gekoop en die koeikudde is daarna geslote gehou. Daar sal by tye bulle of semen ingekoop word om nuwe teelmateriaal te beproef, maar koeie slegs as ’n besondere koei te koop aangebied word.
Die maatskappy en stoetery is in 1971 deur Rhys se seun, Anthony, oorgeneem wat dit uitgebou het tot wat dit vandag is. Ná Anthony se afsterwe in 2016 het sy kinders die besigheid oorgeneem en is dit nou onder leiding van sy dogter, me. Claire Evans-Anderson. Benewens die Sussex-stoetery, bestaan Huntersvlei-boerdery ook uit ’n kommersiële Sussex-kudde, ’n abattoir en saaiboerdery.
Viljoenskroon, waar die plaas Huntersvlei van 2 000 ha geleë is, is ’n hoëproduksie-area waar hoofsaaklik mielies verbou word. Weidings bestaan uit smutsvinger- en rhodesgras. Onder hierdie omstandighede moet met ’n ras geboer word wat hierdie oorvloedige voedingsbronne optimaal benut en die Sussex is perfek daarvoor.
“Die Sussex het ’n ongeëwenaarde temperament, uitstekende voeromsetting en groei. Die ras pas ook goed aan in ons area,” sê Cronjé.
Volgens hom is daar verskeie ekonomiese faktore wat die Sussex vir hulle die moeite werd maak. Goeie speengewigte en langlewendheid is twee daarvan – die plaas se oudste koei is 17 jaar oud. Die stoet se klem is die teel van hoëgehalte-bulle en op ’n kommersiële gebied gaan dit vir hulle oor die produksie van swaar speenkalwers. In die kommersiële kudde is die gemiddelde gewig op sewe maande van bulletjies 277 kg en van verse 242 kg.
Seleksie en Teelbeleid
Op Huntersvlei word geselekteer vir vroulike diere wat goeie moeders is en elke jaar ’n speenkalf van 240 kg of meer speen met ’n tussenkalfperiode (TKP) van minder as 390 dae. Die kudde se besettingsyfer is 94%. Wanneer ’n koei in die stoetery oorslaan, word sy na die kommersiële kudde geskuif. Indien sy daar weer oorslaan, word sy geslag.
“Ons verwag ook ’n koei moet goed aangepas wees en haar kondisie behou, sonder enige klou- of ander strukturele probleme,” sê Cronjé.
Huntersvlei se verse en koeie word vanaf 1 September tot 30 Desember gedek om van Julie tot Augustus te kalf. Cronjé sê hulle het min probleme tydens kalftyd. “Ons kalwers weeg gemiddeld 5,5% van die moeder se gewig en dit verseker maklike geboortes.”
Deur streng te selekteer vir langlewendheid, vrugbaarheid en melkproduksie sorg hulle dat bulle gebore uit hierdie moeders dieselfde eienskappe sal oordra.
Wat manlike diere betref, selekteer hulle vir viriele bulle met ’n goeie stapvermoë, ’n sterk beenstruktuur en goeie bespiering.
By Huntersvlei Sussex glo hulle in die verbetering van hul kudde soveel as in dié van hul kliënte se kuddes. Dít saam met topteelmateriaal wat jaarliks aangebied word, maak hul veiling ’n belangrike datum op die Sussex-kalender. Die Huntersvlei-veiling word op 3 Augustus om 11:00 op Huntersvlei aangebied en sal ook aanlyn plaasvind.