
Aanvanklik was Nutri Feeds slegs toegespits op die produksie en verskaffing van gehaltevoer aan Supreme-pluimveegroeiers. Vandag bied Nutri Feeds ook ’n volledige reeks herkouerprodukte, wat insluit lekke vir onderhoud, produksie en lekkonsentrate vir selfmengopsies. Vir afronding van diere is volledige, semi-volledige en bekende HPK’s beskikbaar vir selfmeng.
Nutri Feeds is ook bekend om ’n reeks fosfaat-, proteïen-, energie- en wildprodukte. Nutri Feeds, wat voorheen as Senwesko Voere bekend gestaan het, is in 2005 by die maatskappy Senwes gekoop. Dit volg ná die verkryging van Country Bird in 2003 deur Synapp International Bpk. – die meerderheid-aandeelhouer in Country Bird Holdings (CBH). In 2018 het CBH ’n vierde aanleg op Lichtenburg bekom, naamlik Opti Agri en Opti Chicks vanaf NWK.
Geheime wapen
Nutri Feeds se sterk punt is die unieke aanbevelings deur kundige tegniese adviseurs aan produsente. Voedingstowwe in plaasgeproduseerde, onverwerkte materiale word in Nutri Feeds se eie laboratorium vir elke klant bepaal. Sodoende word slegs die tekorte op die plaas bepaal en aangepak, pleks daarvan dat voer voor die voet uitgesit word.
Met verkope aan landboumaatskappye in Suid-Afrika en Namibië het Nutri Feeds sewe verteenwoordigers wat elk spesifieke landboubesighede en gebiede bedien. Elkeen word ondersteun deur ’n tegniese adviseur wat produsente direk besoek. Nutri Feeds lê klem op verteenwoordiging om sodoende toegang tot advies vir produsente te vergemaklik.
Proewe spreek boekdele
Nutri Feeds se deelname aan Noupoort se jongooiklub in die Noord-Kaap is ’n bewys van topgehalteprodukte. Twaalf produsente met onderskeidelik ses vervangingsooie elk is ná ’n tydperk van agt maande deur onafhanklike telers en BKB-veldbeamptes beoordeel vir wolgehalte, gewigstoename en die mees ekonomiese ooi.
Mnr. Kobie van der Walt van die plaas Kleinfontein was die algehele wenner. Dit is ’n bewys van prestasie met gehalteprodukte – ’n vennootskap tussen veevoervervaardiger en produsent wat vriende word.
Besondere mylpaal
Nutri Feeds se hoofkantoor is op Potchefstroom, Noordwes, met fabrieke wat slegs enkelmaagprodukte vervaardig in Bloemfontein, Marble Hall en Lichtenburg. Die fabriek op Viljoenskroon vervaardig enkelmaag-, herkouer- en wildprodukte.
Nutri Feeds spog met ’n besondere mylpaal, ’n rekord van 50 000 ton veevoer wat die nuwe maandelikse gemiddelde is tussen die vier fabrieke. Hierdie prestasie het Nutri Feeds se plek as ’n leier in die vervaardiging van veevoere bevestig.