
Om ver van jou goed te wees, beteken nie jy hoef naby aan jou skade te wees nie. Om boere gemoedsrus te gee wanneer hulle nie self by hul diere is nie, is waarin FarmRanger spesialiseer.
FarmRanger is ’n veiligheidshalsband vir lewende hawe en ander diere. Hierdie GPS-geïntegreerde halsband is spesifiek ontwerp om veediefstal en roofdieraanvalle te bekamp. Tydens ’n roofdieraanval of diefstalpoging sal die halsband ’n oproep as alarm stuur na voorafgekose selfoonnommers.
Met ’n regstreekse GPS-opsporingsfunksie op die FarmRanger-toepassing wat met Google Maps integreer, kan die boer presies sien waar op sy plaas sy diere is. Enige beweging word ook met ’n geel lyn aangedui sou die diere aangejaag word. Verder ontvang die boer ’n daaglikse verslag waarop die posisie van die diere op ’n kaart gewys word. Die verslag dui ook die halsband se battery- en seinsterkte aan.
Die halsband werk só dat nie elke dier een hoef te dra nie, een dier in die trop sal as alarmmaker diens doen. Vir skape kan een halsband tot 450 diere in ’n trop monitor, of tot 30 beeste per trop.
Wat sê die klant?
Een boer wat FarmRanger van groot skade gered het, is me. Joanne Webber wat met Merino-skape, beeste en Angora-bokke buite Grahamstad in die Oos-Kaap boer. Die GPS-halsbandalarm het afgegaan ná ’n diefstalpoging in een van haar skaapkampe. Daar aangekom het Webber tou en plastiekkabelbinders in die kamp gevind.
“Toe ons die skape tel, was almal daar, maar een het ’n tou om sy been gehad. Die diewe het die skaap gevang, maar ons moes hulle gesteur het,” vertel Webber op FarmRanger se webblad. “Ons het sedertdien nie weer diefstalpogings gehad nie.
Hou voertuie dop
FarmRanger is nie Etse Electronics se enigste produk wat ’n groot aanwins op enige plaas sal wees nie. FarmTrack is ’n GPS-opsporingstoestel wat op ’n trekker aangebring kan word en die boer help om sy hele trekker- en voertuigvloot mee te bestuur. Dit help jou ook om inligting oor jou boordbesproeiing en ander trekkeraktiwiteite te monitor. Die inligting wat die boer kry, sluit in watter rye in boorde bespuit is, voertuie se ligging en spoed, waar voertuie begin en stop beweeg het, asook hoe die voertuig bestuur word. FarmTrack help dus die boer om sy plaas én sy werknemers beter te bestuur.
FarmTrack word aangedryf deur ’n internet-gebaseerde platform en GPS-eenheid wat spesifiek ontwerp is om op enige trekker of plaasvoertuig te werk – van die oudste model tot die nuutste.
Vir mnr. Paul Cluver van Paul Cluver Wines beteken FarmTrack ’n beter manier van boer. Op FarmTrack se webblad sê hy dat FarmTrack-tegnologie die manier waarop hulle boer verander het sonder dat ’n massiewe kapitaalbelegging nodig was.
“Soos ons weet, kan jy nie bestuur wat jy nie kan meet nie, om dus ’n instrument te hê wat dit alles intyds vir jou doen is revolusionêr.