
Die eenjarige Maximus en Ribeye is Barenbrug se Westerwold-raaigrassoorte met talle gebruike in verskillende boerderystelsels. Dis een van die vinnigste maniere om voer te produseer vir oorwintering en ’n ideale komponent in die voorbereiding van vee (backgrounding) en tussenverbouingstelsels (intercropping) waar Westerwold-raaigras as dekgewas gebruik word.
Topweiding
Die meeste melkplase gebruik Ribeye en Maximus om hul herfs-tot-wintervoervloeiprobleme op te los. Dis danksy die vinnige vestiging en groei wat die raaigrasse bied. Boere kan seisoenale opbrengste van 8-12 ton droëmateriaal per hektaar verwag in ’n monokultuur
van net Westerwold-raaigras (25-30 kg/ha).
Dié raaigras se voedingswaarde word beklemtoon as dit met ander eenjarige grasse soos hawer vergelyk word (sien TABEL).
’n Ander manier om Ribeye of Maximus in jou weidings te kry, is om die eenjarige raaigras te oorsaai in ’n meerjarige weiding, soos lusern of sigorei, waarvan die produksie in die herfs afneem. Dit sal verseker dat daar voldoende voer in die tydperk van herfs tot winter is.
Só verhoog jy nie net die produksiepotensiaal nie, maar beskerm jy ook jou weidingsplatform teen onkruidindringing waar jou plantestand laag is.
Tussenverbouing
’n Goeie voorbeeld hiervan is om ’n kontantgewas soos mielies by ’n V5-stadium in te saai met Ribeye en Maximus.
Ná afloop van die mielie-oes het die boer die voordeel van ’n gevestigde weiding vir sy vee. Hierdie praktyk help ook met vogbestuur in ’n baie nat seisoen en die oppervlakbedekking is voordelig vir grondorganismes.
Voorbereiding van die vee
Voorbereiding van vee behels dat hulle op weiding geplaas word ná hulle gespeen is en voor hulle na ’n voerkraal gaan. Dit hou verskeie voordele in, soos dat speenkalwers ’n sterker skelet en spiermassa op weiding bou, pleks van vet wat hulle op ’n vroeë ouderdom in ’n voerkraal sou aansit.
Voorbereiding op ’n Westerworld-raaigras is nie net ’n natuurliker manier van afronding nie, maar ook baie goedkoper as voerkraalkonsentrate.
Daarby gee dit die boer buigsaamheid om te besluit wanneer om vee vir ’n voerkraal te bemark. Die boer kan ’n gemiddelde daaglikse toename van 0,5-1,2 kg/GVE verwag wanneer dié praktyk toegepas word.
Vestig vinnig
Westerwold-raaigrasse soos Ribeye en Maximus is bekend om hul vinnige vestiging en hoë produksie in ’n relatief kort groeiseisoen. Dit is hierdie kerneienskap wat albei kultivars ideaal maak in ’n mielieverbouingstelsel.
Albei reageer goed op stikstoftoediening en kan selfs as kuilvoer gebruik word.
’n Verdere voordeel van Westerwold-raaigras is sy vermoë om ’n groot wortelstelsel te ontwikkel wat nitrate in die grond baie doeltreffender benut.
Albei kultivars is ’n goedkoop opsie vir vinnige, hoëgehalte-voer vir die meeste weidingstelsels.
Mnr. Jean-Alex Swart is Barenbrug se tegniese bestuurder in die Oos-Kaap.