
Op Rietfontein het hy die groot voorreg om deel van ’n vierdegeslag-familieboerdery te wees, sê mnr. Wilhelmus van der Schyff. Rietfontein, naby Bultfontein in die Vrystaat, is die tuiste van die Schyff Beefmaster-stoetery. “Dit is bedrywig op die plaas en dit is lekker om te weet ’n lys met dagtake lê voor. Ons werk met passie, entoesiasme en ’n doel voor oë: Doen dit wat jy doen na die beste van jou vermoë en maak ’n verskil.”
Sedert die begin van Schyff Beefmasters in 2008 was daar vir die Van der Schyffs ’n paar kernbeginsels wat vandag steeds deel van hul praktyke uitmaak – seleksie vir vrugbaarheid, syfers wat akkuraat en betroubaar is, en goeie menseverhoudinge bou met bestaande en nuwe kennisse.
Waar dit begin het
“Ons kudde het ontstaan uit kommersiële vroulike diere waarmee reeds op die plaas geboer is. Hieruit is die regte tipe geselekteer en is vordering gemaak tot waar ons nou is,” sê Van der Schyff.
Seleksie vir vrugbaarheid was uit die staanspoor een van die belangrikste beginsels. Daar word verwag dat alle vroulike diere jaarliks moet kalf. Daardie kalf moet ’n goeie speengewig hê en sterk en gesond wees.
Vroulike diere moet in die eerste plek hierdie doel bereik voordat daar na enigiets anders gekyk word. Hulle word geen tweede kans gegun nie. “Ons verse kalf reeds op twee jaar en ook vir hulle is daar geen uitsondering nie.
Slegs die vrugbaarste, jong vroulike diere bly op die plaas aan. Hierdie verse moet op veldtoestande en met lekaanvullings dié doelwitte behaal. “Vir ons vorm ’n vrugbare kudde die grondslag waarop die res volg.
Sodoende selekteer ons indirek vir aangepaste diere wat goed op ons plaas op veldtoestande presteer. Dit verseker dat ons maksimum wins uit die boerderypraktyke genereer.”
Duidelike doelwitte
Van der Schyff glo bestuurspraktyke moet deeglik toegepas word om te verseker dat verse vanaf speen tot op 14 maande oud goed groei. Prestasietoetsing help hom om mettertyd verse te teel wat hierdie doelwitte maklik bereik. ’n Besetting van 85% is ’n slaagsyfer.
Die mikpunt is egter 90%, en die afgelope vyf jaar was die besettingsyfer bo 90%.
Tweedens lê Van der Schyff sterk klem op akkurate en betroubare syfers. Hy sê jare se teling, tesame met akkurate syfers, stel hulle in staat om die voorspelbaarheid van die nageslag beter te bepaal. Sodoende word besluite met insig geneem en tyd bespaar.
Prestasietoetsing word om dié rede gedoen. “Uit die fase D-toets op jong bulle bekom ons baie inligting wat ons help met keuses ten opsigte van die vroulike diere. Vir ons is die doel van die fase D-toets juis om swak groeiers te identifiseer, asook dié wat buitengewoon goed gegroei het.
Albei hierdie tipes is nie ideaal nie.” In hierdie toets word van die jong bulle verwag om op veldtoestande te presteer met minimum lekaanvullings. Hulle moet nie net hulself kan onderhou nie, maar ook groei en ’n gewig van 120 kg in 150 dae aansit.
Uit die totale groep van ongeveer 120 bulle word slegs dié bulle gebruik wat volgens Van der Schyff die ideale bouvorm het en wie se moeders goed presteer het. Hy kyk ook na die Blup-syfers van die bulle.
Gevolglik word verse geteel wat ná speen, sonder moedersmelk, goed op die veld groei en genoeg gewig aansit om suksesvol op 14 maande gedek te kan word.
“Wanneer die bulle vir die jaarlikse produksieveiling gereed gemaak word, besef ek opnuut hoe bevredigend dit is om te weet dat nuwe menseverhoudinge gebou is en beter bulle geteel is. Ek hoop dat ons boerdery nog baie sukseshoofstukke gaan inhou.”