
Die Son-Safari Landbouskou, ’n week lange landbouskou vanaf 30 April tot 5 Mei 2022 in Mauritius, word deur Laeveld Agrochem aangebied.
Verbeel jou jy is op ’n tropiese eiland, die son op jou vel en die reuk van die see in die lug, maar terselfdertyd brei jy ook jou kennis uit en ontmoet mense in dieselfde bedryf as jy. Dis wat die Son-Safari Landbouskou beloof: ’n week lange landbouskou vanaf 30 April tot 5 Mei 2022 in Mauritius. Dié geleentheid word deur Laeveld Agrochem aangebied.
Behalwe dat jy geleentheid kry om jou batterye te herlaai saam met jou gesin, vriende en kollegas op dié idilliese, tropiese eiland, kry jy ook die besonderse belewenis om kennis op te doen en netwerke op te bou.
Die vyfster Sugar Beach-vakansieoord in Mauritius word eksklusief gereserveer vir Son-Safari-gaste met ’n pakket wat alles insluit.
Dis die ideale geleentheid vir boere om ’n hele vakansieoord te deel met mense wat net soos hulle is, in hul eie taal in ’n ander land te kuier en idees met mekaar uitruil. Word geïnspireer deur ander suksesvolle boere met dieselfde kwessies, vrae en drome as jy!
Waaroor gaan Son-Safari?
Son-Safari is ’n landboukonferensie oor ses dae en vyf nagte, met topsprekers en uitstallings met die nuutste tegnologie, produkte, hulpmiddels en toerusting in die landboubedryf. Die konferensie word afgerond met vermaak en ontspanning vir die hele gesin. Klik hier vir die program.
Landbousprekers en uitstallings
Toplandbousprekers gaan die nuutste tegnologie en ontwikkelinge in die bedryf bespreek, met sprekers soos Theo Vorster, ’n gerespekteerde landboukenner, en dr. Todd Cardwell, ’n landbouspesialis van Amerika.
Agri Technovation gaan die nuutste kennis oor presisiedienste deel. Kom luister en maak planne saam met Suid-Afrika se suksesvolste boere.
Vermaak en motiveringsprekers
Die Afrikaans is Groot-span gaan die groep vergesel. Gaste kan hulle gereed maak vir twee aande se puik musiekproduksies met Top Treffers, en Afrikaans is Groot-treffers. Die program sluit ook ander vermaak en uitstekende motiveringsprekers in soos Lynette Beer en Victor Matfield, met baie geleentheid om met glanspersoonlikhede skouers te skuur.
Sugar Beach
Hierdie vyfster-vakansieoord word eksklusief gereserveer vir Son-Safari-gaste. Pakkette begin vanaf R22 600 per persoon wat deel, en sluit hope ekstras in. Die koste sluit ’n allesinsluitende pakket vir etes, drankies (nie-premium), sekere watersporte en uitstappies, onbeperkte gholf en baie meer in. *Vliegkaartjies uitgesluit by koste.
Covid-19
Die datum is onderhewig aan beide Mauritius en Suid-Afrika se covid-19-regulasies, maar ‘n volle terugbetaling kan geëis word indien dit die rede van kansellasie vir die byeenkoms is. Op die stadium word vereis dat gaste (ouer as 18 jaar) wat saam reis, teen covid-19 ingeënt moet wees. Alle gaste, kinders ingesluit, moet ook ’n geldige dokument vir ’n negatiewe covid-19-toets verskaf, wat binne 72 uur vanaf hul aankoms in Mauritius gedoen is.