
Mielies wat omval, gebeur weens ’n verskeidenheid stresfaktore gedurende die seisoen wat stamsterkte en/of stamgehalte beïnvloed. Die belangrikste stresfaktore wat tot omval lei, is droogte, min sonlig, insek- en siektedruk, en lae vrugbaarheid. Stamprobleme ontstaan selfs wanneer goeie groeitoestande gevolg word deur minder gunstige omgewingstoestande. Dit kan ook plaasvind wanneer die plant nie voldoende koolhidrate kry deur fotosintese nie en dus koolhidrate aan die stamme en wortels moet onttrek.
Om omval te voorkom moet die boer bewus wees van faktore wat bydra tot dié probleem, soos:
Strestoestande. Wanneer ’n mielieplant onder stres – soos droogte en hitte – verkeer, maak die blare toe en is fotosintese minder. Gebeur dit tydens graanvul, is dit uiters nadelig vir die plant.
Bewolkte weer. Fotosintese neem drasties af in lang tydperke van bewolkte weer.
Haelskade. Haelskade verminder die blaaroppervlakte drasties. Dit kan daartoe lei dat die plant sy nodige koolhidrate by die wortels en stam gaan kry pleks van deur sy blare.
Oormatige reën. Wanneer baie reën in ’n kort tydperk val en sterk wind daarmee gepaard gaan, val sekere kultivars met swakker wortelstelsels om.
Hoë plantestand. Dit veroorsaak dat mielieplante meer regop en hoër groei vanweë mededinging om sonlig. Plante met dunner stamme kom dus voor en kan, as dit deur ’n swam besmet word, makliker omval.
Te veel water. Dit lei tot versuiptoestande en verswak wortelgroei en -ontwikkeling.
Voedingstekorte of wanbalanse. Hoë vlakke van stikstof (N) en lae vlakke van fosfaat (P) verlaag stamgehalte.
Insekskade. Die mieliestronkboorder (Busseola fusca) vreet gate in die plant se stam, verswak dit en maak dit vatbaarder vir swamme. Plant kultivars met die BT-geen om stamboorderskade te vermy.
Blaarsiektes. Noordelike blaarskroei en grysblaarvlek verminder die blaaroppervlakte en dit verminder fotosintese.
Kultivar-vatbaarheid. Plant kultivars met weerstand teen stamvrot en ’n sterker staanvermoë.
Die rede waarom fotosintese so belangrik is, is omdat die plant die energie nodig het vir die ontwikkeling van pitte. Indien nie in die energiebehoefte voorsien word nie, verplaas die plant koolhidrate van die wortels en stam na die kop. Stamvrot-organismes kan dan verswakte en sterwende plantweefsels binnedring.
Koolhidraatbehoeftes tydens graanvulstadiums
Omvalprobleme kom dikwels voor weens stres tydens graanvul, wat die hoeveelheid koolhidrate wat van die stamme en wortels gemobiliseer word, verhoog. By suksesvolle bestuiwing vereis kopontwikkeling baie koolhidrate van die plant.
Wanneer die eise van die ontwikkelende pitte die aanbod wat deur die blare geproduseer word oorskry, word stam- en wortelopbergingsreserwes gebruik. Omgewingstres, wat die hoeveelheid fotosintaat wat deur die plant geproduseer word, verminder, kan plante dwing om selfs groter persentasies stamkoolhidrate te onttrek, wat graanvulverhoudings ten koste van stamgehalte beskerm.
Aangesien koolhidrate wat in die wortels en stamme opgeberg word, aan die kop gemobiliseer word, begin hierdie strukture afneem en verloor hulle gou hul weerstand teen grondgedraagde patogene. Hoë temperature tydens graanvul verhoog die tempo waarteen swamme die plant binnedring en koloniseer. Hoewel patogene ’n sleutelrol speel in stamvrot-ontwikkeling, is dit hoofsaaklik die onvermoë van die plant om voldoende fotosintaat te verskaf aan die ontwikkelende kop wat die proses inisieer.
Mnr. Martin Brandt is ’n landboukundige by Pioneer