
“Ons is vanjaar optimisties oor internasionale markte, gegewe dat ons beesvleisprodukte steeds gesog is in bestemmings soos die Midde-Ooste. Gegrond op die sukses wat Suid-Afrika met beesvleisuitvoer behaal het en die uitstekende reputasie wat Suid-Afrikaanse beesvleis verwerf het, wil ons graag meer toegang tot ander toonaangewende bestemmings hê,” sê mnr. Louw van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep, ’n toonaangewende spesialisprodusent van gehalte-beesvleisprodukte binne en buite Suid-Afrika.
Gulffood-handelskou
Suid-Afrikaanse beesvleis het in Februarie ’n hoofrol gespeel op die 2022-Gulfood-handelskou in Doebai – die grootste jaarlikse voedsel-en-drankuitstalling ter wêreld. Meer as 120 lande en 4 000 maatskappye het deelgeneem, insluitende die Beefmaster-groep. Dit was die maatskappy se sesde jaar van deelname.
“Ons het vanjaar ons bestaande verhoudings op die handelskou verstewig en het natuurlik voortgegaan om Suid-Afrikaanse beesvleis ten toon te stel,” sê Van Reenen. “Handelskoue soos hierdie is van groot belang vir ons bedryf, omdat dit help om die handel en verskaffing van Suid-Afrikaanse beesvleis by multinasionale maatskappye te stimuleer. Dit is van selfs groter belang vir Suid-Afrika namate ons uit die covid-19-tydperk beweeg, waartydens dit nie moontlik was om internasionale verhoudings te handhaaf deur geleenthede by te woon nie.”
Hy voeg by dat die regering groot moeite gedoen het om Suid-Afrikaanse verteenwoordiging op vanjaar se skou te verseker, wat sy verbintenis tot die handhawing en bevordering van internasionale handel tussen Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate illustreer.
“Die hervestiging van hierdie internasionale verhoudings is veral belangrik aangesien ons verwag dat die Suid-Afrikaanse verbruikersmark vir beesvleis vanjaar waarskynlik negatief tot plat gaan wees,” sê Van Reenen, en voeg by dat Suid-Afrika geleenthede soos hierdie moet benut om meer uitvoergeleenthede beskikbaar te maak.
Die risiko’s
Hy noem dat risiko’s wat die vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf in 2022 beïnvloed, insluit die koste van grondstowwe, vee en veevoer wat die hoogte inskiet, die heersende hoë prys van speenkalwers en die impak van rampe soos brande en vloede op beesboere en ander verskaffers. Dit alles het ’n uitkringeffek op beesvleisproduksie.
“Dit beteken dat ons na wêreldmarkte moet kyk en uitvoer moet verhoog om die impak van sulke gebeure op ons bedryf te versag, wat ook voordelige newe-effekte vir ons ekonomie sal hê,” sê Van Reenen.
Volgens die Suid-Afrikaanse Rooivleisprodusente-organisasie voer Suid-Afrika tans 4% van sy beesvleisproduksie uit, wat volgens Van Reenen duidelik aandui dat daar ’n geleentheid vir die land is om sy beesvleisuitvoer te laat groei.
Die Midde-Ooste voer volgens berigte ongeveer 90% van sy bees- en lamsvleis in, wat die geleentheid vir beesvleisuitvoer ideaal maak vir Suid-Afrika. Van Reenen sê Suid-Afrikaanse beesvleis is reeds gesog op markte soos dié weens die uitstekende gehalte. Dit bevat minder vet, wat dit gesog maak. Die Beefmaster-groep bied ook uitstekende gehalteversekering, ondersteun deur ’n toonaangewende naspeurbaarheidstelsel, asook halaal-sertifisering aan uitgesoekte Midde-Oosterse lande. Boonop groei die bevolking in die Midde-Ooste vinnig.