
Die uitmergelende droogte in 1996 het mnr. Kobus Poggenpoel gedwing om sy boerdery van die Kalahari, waar hy sedert 1977 geboer het, na Setlagole by Vryburg in Noordwes te skuif.
“Ek was in die fleur van my boerderyloopbaan en hoewel die droogte ’n rol gespeel het, was die geleenthede wat hier vir my gewink het, opwindend.”
Nadat hy, sy vrou, Gerda, en hul vier kinders, Phillip, Kobus, Hester en Karien, hul wortels op die plaas Aliceville geplant het, het hy een van daardie geleenthede aangepak – die stigting van sy Bonsmara-stoetery in 2000. Tot in daardie stadium het hy ’n kommersiële Bonsmara-kudde bedryf. Vandag is die Poggenpoel Molopo-Bonsmara-stoetery wyd bekend. Sy produksieveilings lok jaarliks kopers van reg oor Suid-Afrika en selfs vanuit die buurlande. Verlede jaar was hul gemiddelde veilingsprys vir 78 bulle R144 000. Vanjaar se veiling op 31 Mei sorg reeds vir opgewondenheid, veral met BBM 16-96, seun van BBM 13-21, wat aangebied word.
“Dit is ’n bul wat diep spore in ons kudde getrap het,” sê Poggenpoel. “Mense kan sy data (by die genootskap) kry, ek dink dit gaan een van die hoogtepunte wees.”
Hulle beoog om 80 bulle, waaronder jong bulle en kuddevaars, asook 200 vroulike diere aan te bied.
Konsentreer hierop
Dat die Poggenpoels ’n gerekende naam onder Bonsmaratelers is, is nie bloot geluk nie. Dit is die resultaat van diepe geloof, harde werk en spanwerk tussen pa en seuns. Phillip en Kobus is hul pa se regter- én linkerhand. Al drie is betrokke boere wat hul kuddes ken, tussen hul diere boer en lief is vir Bonsmaras.
“Die Bonsmara-ras is so gelief omdat hy wyd aanpasbaar is. Hy handhaaf ’n goeie speengewigverhouding.
“As jy jou huiswerk doen, is ’n 50%-speengewigverhouding baie haalbaar. Jy kan selfs ver verby 50% gaan as jy daarop konsentreer.”
Speengewigverhouding is een van die eienskappe waarvoor die Poggenpoels selekteer.
“Ek en die seuns glo daaraan om nie op te veel eienskappe te konsentreer nie, want dan is jou vordering minimaal. Ons spits ons toe op reproduksie, produksie en speengewigverhouding.”
Hul Bonsmaras speen gemiddeld op 205 dae en die gewig is 270-280 kg. Dit sluit bulle en verse in.
Hoewel daar soms probleme is, soos stywesiekte verlede jaar, het hul koeikudde ’n besettingsyfer van 90% en meer.
“Vrugbaarheid is ’n eienskap wat laag oorerflik is, maar ons het deur die jare baie aandag daaraan gegee.”
Weiding en aanvulling
Vir Poggenpoel is goeie weidingsbestuur noodsaaklik om ’n kudde se produksie en reproduksie volhoubaar te handhaaf. Hy gebruik daarom ’n vierkampstelsel. “As jy weiding het wat in ’n optimale stadium is, is dit belangrik om dit daar te hou. Dit doen jy deur die regte beweidingspraktyke van wei- en rustye te volg.”
Aanvulling is wel nodig. “Jy het goeie weiding en goeie teelmateriaal, maar om dit te ontsluit, moet jy aanvullende lekke gebruik. Ons stap al ’n lang pad saam met Molatek. In die somer sit ons vir die produksiediere Foslek (reg. nr. V16509, Wet 36 van 1947) uit, en in die winter Wenlek (reg.nr. V17731). Ons bulle kry stoetbulmengsels wat bestaan uit Beesvet33 (reg.nr. V17357) met Bypass (reg.nr. V21556), Meester20 en melassemeel. Met ons ekstensiewe fase D-toets op die veld kry die bulle net Meester20. Deur die jare is ons gemiddelde gewigstoename 1,4-1,5 kg/dag.”
Die veiling word op 31 Mei gehou by Noord-Kaap Lewende Hawe se veilingslokaal op Stella, en begin om 11:00.