
Suid-Afrika het een van die mees lewensvatbare landboubedrywe in Afrika suid van die Sahara. Die landbou dra grootliks by tot armoedeverligting, indiensneming, sowel as verbeterde nasionale en huishoudelike voedselsekerheid.
Die landboubedryf was egter nog altyd ’n verhaal van twee skerp kontraste. Aan die een kant is daar oorheersend kommersiële boere met goed gevestigde strukture en toegang tot hulpbronne, en aan die ander kant bestaansboere wat met uiters karige hulpbronne klaarkom. Om transformasie in die landbou te bevorder en voorheen benadeelde persone in staat te stel om aan hierdie sleutelbedryf deel te neem, moet geleenthede vir mentorskap tussen kommersiële en bestaansboere gevestig word.
“Boerdery is net soos enige ander besigheid: Dit verg passie en toewyding. Ek het baie jonk in die bedryf begin, vars uit die Tshwane-universiteit van Tegnologie. Daar was baie druk om myself te bewys, aangesien ek aan die diep kant ingegooi is en daar van my verwag is dat ek van die begin af ’n groot projek moes bestuur.”
Dit is die woorde van Tshilidzi Matshidzula. Toe hy in Augustus 2007 op Alexandria in die Oos-Kaap aangekom het, was hy net 19 en op ’n reddingsending. Hy is deur die vooraanstaande Oos-Kaapse kommersiële melkboer Walter Biggs, van Oakleaf Business Trust by Alexandria, as ’n leerlingbestuurder gewerf. Hy moes probeer om nóg ’n mislukkende grondhervormingsprojek te red: die klein melkplaas, Little Barnet, wat deur 17 swart begunstigdes besit is.
Dertien jaar later het Matshidzula, nou ’n 40%-aandeelhouer in die plaas, die onderneming omskep in ’n bekroonde wêreldklas-melkplaas wat meer as 1 000 koeie melk en meer as 5 miljoen liter melk per jaar produseer. Vir sy puik werk het hy ’n rits toekennings ontvang, insluitend die onlangse rentmeesterskap-toekenning van die Melkprodusente-organisasie en Nedbank.
Matshidzula sê sy passie vir mense en diere steun die sukses van die boerdery. Hy glo vas daarin om sy seëninge te deel. Sy praktiese benadering in die opleiding en opheffing van plaaswerkers en gemeenskapslede is baie belangrik.
Transformasie in die landboubedryf is nie net goed vir ekonomiese vryheid nie, maar dit is ook ’n stukrag vir maatskaplike samehorigheid en vooruitgang.
Transformasie is egter nie ’n gebeurtenis nie; dit is ’n proses. Die impak van landbouhervormingsbeleide word gekenmerk deur lang en onsekere tydsvertragings – soos enige ekonomiese beleid. Dit beteken dat dit lank kan duur voordat die impak van koloniale ongeregtighede binne die landboubedryf heeltemal tot niet gemaak is. Sommige landbousubsektore soos tuinbou, veeteelt en pluimvee is meer getransformeer as ander.
Die regering moet op die ongetransformeerde bedrywe konsentreer sodat swart boere vrye toegang tot die hele landboubedryf het. Buiten transformasie kan wetgewende maatreëls en nie-wetgewende maatreëls soos vennootskappe tussen die private en openbare sektor dien as katalisators vir transformasie in die landbou.
Gegewe die stadige tempo van ongeveer 5%-deelname deur swart produsente, wat onaanvaarbaar en onvolhoubaar is, moet die voorgestelde vennootskappe tussen die private en openbare sektor, en gemengde finansieringskemas mentorskap prioritiseer om ’n verskil te maak.
Banke sal deur middel van hierdie inisiatiewe finansiering verskaf om uitbreiding in produksie op plase in private besit of grondhervorming te ondersteun, sowel as die aankoop van kapitaaltoerusting en infrastruktuur. Hulle sal ook bedryfskapitaal en/of produksielenings en versekeringspoele verskaf om versekeringsdekking vir boere te subsidieer.
Matshidzula se suksesverhaal is ’n inspirerende voorbeeld van hoe transformasie in die landboubedryf tot ekonomiese groei bydra. In sy geval kan die belangrikheid van die vennootskap tussen private instellings soos banke en die regering rakende transformasie gesien word. Namate meer swart boere aan landbouproduksie deelneem, sal die totale ekonomiese uitset toeneem.
“Ek is ’n voorbeeld van wat met opregte mentorskap bereik kan word. Dit is baie maklik om geld as ’n oplossing vir ’n kwessie te gebruik. Die verhouding met my mentor (Biggs) was ’n wedersyds voordelige een, wat beteken het dat daar respek, begrip en baie bewondering is vir mekaar en vir wat ons albei individueel probeer bereik het,” sê Matshidzula.