
Op die hoofteerpad (R331) tussen Hankey en Patensie in die Oos-Kaap, omring deur sitrusplase, sit ’n uitstekend toegeruste sitrusverpakkingskompleks, wat tans op tender beskikbaar is.
Hierdie eiendom is een van twee wat deur Van Rensburg Auctions op tenderverkoping beskikbaar gestel word. Die tweede eiendom is ’n sitrusplaas, onder net, 8 km vanaf Jeffreysbaai in die Kabeljous-gebied ook in die Oos-Kaap. Tenders vir albei dié eiendomme sluit op 20 Februarie.
Die sitrusverpakkingskompleks
Hierdie moderne verpakkingskompleks, bekend as Wagondrift Packing, is ’n pakhuis wat ’n area van 4 300 m² beslaan met ses koelkamers (730 m²) en kantore. Die sitruspaklyn is voltooi en benewens die sitrusverpakking, is ’n aanleg vir groenteverpakking ook beskikbaar.
Beurtkrag kan enige besigheid kniehalter, maar hierdie pakhuis is toegerus om steeds te werk al is daar nie krag nie. Die verpakkingskompleks het ’n 202 kW-sonkragstelsel wat uit 520 Canadian Solar-panele bestaan. Die sonkragstelsel is deur Nersa goedgekeur en gekonnekteer om oorskotkrag na die Eskom-lyn oor te dra. Daar is drie Godwee-wisselrigters (inverters) en ’n 142 kVA Genset-kragopwekker. Op die perseel is ook ’n ondergrondse dieseltenk met ’n kapasiteit van 12 000 liter.
Die erf waarop die kompleks staan, is 8 103 m² groot en val onder die Kouga-munisipaliteit.
Sitrusplaas
Hierdie plaas is Gedeelte 4 van die plaas Misgund en beslaan 137 hektaar. Daar is 34 hektaar sitrusbome onder net wat kultivars soos Tango, Nova en LS Nadorcott insluit. Drupbesproeiing word gebruik. Die boorde is vier jaar oud. Ook op die plaas is 3 hektaar Novas wat nie onder net is nie. Daar is 10 hektaar wat nog beplant kan word.
Dié plaas het geregistreerde waterregte vir water uit die Kabeljousrivier en maak ook staat op boorgatwater. Op die grond staan twee wonings, buitegeboue en twee skure van staal. As ’n ekstra bonus bied die plaas ’n 90 hektaar-wildkamp, omhein met ’n heining wat 2,4 meter hoog is.
Tenders vir albei hierdie eiendomme sluit om 12:00 op 20 Februarie. Diegene wat belang stel kan mnr. Pietie Ferreira by 082 445 0555 skakel om die perseel te besigtig. Die tenderinligting is beskikbaar by mnr. Louis van Rensburg by 083 377 7232. Vir die tendervoorwaardes stuur ’n e-pos aan ann@vanrensburgsauctions.co.za of skakel 082 927 1373.