
Op 6 Julie 2022 het Val-boeredag weer sy hekke oopgemaak en bykans 3 000 besoekers verwelkom by die immergewilde demonstrasiedag.
Landbouweekblad het met mnr. Brett Gordon van die Waterval-boerevereniging gesels oor die gewildheid en geskiedenis van die dag.
Geskiedenis
“Die eerste Val-boeredag is in September 1995 aangebied op die plaas Oudehoudspruit. Die gedagte was om vir die boere van die Val-omgewing die geleentheid te bied om te sien hoe die nuutste tegnologie in hul omstandighede werk. Dit is hoe die idee van die demonstrasies ontstaan het en 25 jaar later is dit steeds die fokus van die boeredag,” sê hy.
Later het die boeredag geskuif na mnr. Philip Viljoen se plaas vanweë sy besproeiingslande. Die datum het daarna eers na einde Junie en toe na begin Julie geskuif om saam met die mielie-oestyd te val omdat die organiseerders stroperdemonstrasies wou insluit.
Intussen het die Val-boeredag ’n toegewyde perseel langs die Val-hotel op Val, Mpumalanga, gekry waar die boeredag elke jaar aangebied word.
Nuwe manier van demonstreer
“Vanweë Val se ligging is dit ’n besonder gewilde boeredag. Mense kom van wyd en syd om dit by te woon. Toe die Nampo-oesdag destyds opgehou het om praktiese demonstrasies aan te bied, het dit die Val-boeredag aansienlik laat groei. Boere het baie maal toerusting op die Nampo-oesdag gesien, en dan het hulle na ons boeredag gekom om ’n demonstrasie daarvan te sien,” sê Brett.
“Vanjaar het ons die demonstrasies in sewe kategorieë aangebied: primêre grondbewerking, grondvoorbereidingskombo’s, saadbedvoorbereiders, planters, spuite, stropers en ’n algemene kategorie vir maatskappye wat iets anders wou demonstreer.
“Die kategorieë het die boere die geleentheid gebied om soortgelyke werktuie langs mekaar te sien werk. Dit het groot aftrek gekry by die boere en ek meen dit was baie suksesvol.”
Groot viering
Vanjaar op 6 Julie het die boeredag sy 25ste bestaansjaar gevier en nagenoeg 3 000 volwassenes deur die hekke gelaat. “Daar was heelwat kinders ook omdat dit in die vakansietyd val. Ons terrein was stampvol met ongeveer 180 uitstallers.”
Brett meen die feit dat hulle twee jaar nie die boeredag kon aanbied nie, het boere baie lus gemaak vir vanjaar se boeredag.
“Die dag was ’n groot sukses en ons wil hom elke jaar oortref. Ons is reeds besig met beplanning vir 2023.”
Val-boeredag is op ’n punt waar sekere uitstallers en demonstreerders al geruime tyd ’n paadjie saam met die boeredag stap.
“Uit hul ervaring sien hulle die nut en waarde van die boeredag en hulle is bereid om die toekoms met ons te deel. Ons is baie dankbaar vir die lojale uitstallers en landboumaatskappye wat ons ondersteun.”