
Die feestyd is hier en idees vir kosmaak is altyd welkom. Met pryse wat van alle kante af druk, is varkvleis ’n uitstekende opsie. Nie net is dit smaaklik en voedsaam nie, dit is ook goedkoper as ander vleisopsies.
Gegewe dat dit ook nou die seisoen is om tyd saam met vriende en familie deur te bring, wil die gesin se kok nie al haar tyd in die kombuis deurbring nie. Hierdie resepte van SA Pork is gereed in 'n japtrap en sal almal se monde laat water.
CHIMICHURRI-VARKVLEISFRIKKADELLE
Frikkadelle, maar nie soos jy dit ken nie! Hierdie heerlike chimichurri-frikkadelle word gemaak met maer varkmaalvleis en amandelmeel vir ’n gesonde alternatief. ’n Maklike, hoëproteïen-treffer ideaal vir ‘n weeksaand.
PORSIES: 12 / VOORBEREIDINGSTYD: 20 MINUTE / GAARMAAKTYD: 15 MINUTE
Bestanddele
Vir die frikkadelle:
500g maer varkmaalvleis
½ koppie amandelmeel
½ koppie fyn broodkrummels
1 eier
Sout en peper
Olyfolie om in te braai
Vir die chimichurri-sous:
1 klein salot, in wiggies gesny
¾ koppie platblaar-pietersielieblare
1 eetlepel vars origanumblare
2 knoffelhuisies
1½ teelepel kosjer-sout
1 teelepel vars gemaalde swartpeper
½ teelepel rooipepervlokkies
¾ koppie ekstrasuiwer olyfolie
¼ koppie rooiwynasyn, plus meer na smaak
Metode
Frikkadelle:
Meng die varkmaalvleis, amandelmeel, broodkrummels, eier, sout en peper in ’n bak.
Meng goed en rol in balletjies.
Braai in die olyfolie tot bros.
Chimichurri-sous:
Plaas die salot, pietersielie, origanum, knoffelhuisies, sout en peper in ’n voedselverwerker. Pols tot goed gemeng, maar nie heeltemal glad nie.
Plaas die mengsel in ’n klein bakkie. Voeg die olyfolie, asyn en rooipepervlokkies by en meng. Bêre verkoel in 'n lugdigte houer vir tot 2 weke.
LET WEL: MAAK 1¼ KOPPIES
VARKVLEISKEBABS MET PYNAPPEL EN SOETRISSIE
Maak hierdie heerlike kebabs vir jou volgende naweekgesinsbraai. Hier is ‘n paar nuttige wenke om jou te help.
PORSIES: 6 / VOORBEREIDINGSTYD: 20 MINUTE / GAAARMAAKTYD: 10 MINUTE
Bestanddele
Ongeveer 550-750 g varknekblokkies
½ vars pynappel, geskil, ontkern en in blokkies gesny
2 rooi soetrissies, pitte en wit are verwyder en in blokkies gesny
1 koppie olyfolie
30 ml tamatiesous
25 ml appelasyn of rooiwynasyn
1 klein ui, gekap
3 knoffelhuisies, gekap
5 ml braai- of hoenderspeserye
Sout en peper
Metode
Jy benodig 10-14 hout-sosatiestokkies wat in water geweek is.
Plaas die varkvleis en al die ander bestanddele behalwe die sout en peper in 'n glas-, plastiek- of emaljehouer en meng goed. Bedek en plaas in die yskas vir 4 uur of oornag. Ryg die varkblokkies, pynappel en soetrissies op die stokkies en plaas die oorblywende marinade in 'n klein potjie.
Braai die sosaties tot ’n ligte goudbruin aan alle kante. Geur met sout en peper terwyl dit op die braaier is.Verhit die oorblywende marinade en kook liggies vir ’n paar minute tot effens verdik. Bedruip die sosaties met hierdie sous terwyl dit op die braaier is. Draai dit om soos nodig en wees versigtig om dit nie oorgaar te maak nie. Haal van die braaier af, laat rus vir ’n paar minute en geniet.
Wenke:
Vra die blokman vir varkblokkies van ’n sapperige snit, soos nek of skouer. Die blokkies moet nie te klein wees nie – ten minste 20-25 mm-grootte blokkies. Deur die blokkies in ’n geurige sous te marineer kan die smaak verbeter, maar vermy soet marinades wat heuning, suiker, konfyt of stroop bevat.
Braai die sosaties oor medium-warm kole tot net gaar. Laat rus die sosaties vir 5 minute voordat jy dit opdien.
JAFFELS MET KERRIEVARKVLEIS
Hierdie jaffels met kerrievarkvleis is binne ’n paar minute gereed. Met dié dat jy sommer oorskietbrood en stapelkos uit jou spens kan gebruik, is dit ideaal vir aande wat jy in ’n kits moet regstaan met kos of vir ’n etes tydens ’n luilekker naweek.
PORSIES: 4 / VOORBEREIDINGSTYD: 10 MINUTE / GAARMAAKTYD: 10 MINUTE
Bestanddele
500g maer varkmaalvleis
Olie om te braai
1 klein rooi-ui in blokkies gesny
1 e fyngedrukte knoffelhuisies
1 e kerriepoeier
½ koppie blatjang
1 koppie gaar ertjies, mielies en wortel
Brood van keuse
Botter
Metode
Maak ’n bietjie olie in ’n pan warm en voeg die gekapte ui en speserye by. Braai tot geurig. Voeg die varkmaalvleis by en braai tot bruin. Gooi die blatjang en groente by, en kook vir nog ’n paar minute.
Kry jou brood reg deur dit te smeer. Plaas 2-3 eetlepels van die gaar varkmaalvleis op die onderste snytjie. Sit die boonste snytjie brood by en plaas op die jaffelpan. Druk die pan toe en sny die oortollige brood af.
Sit die jaffelpan op die kole of gasstoof en braai vir 2-3 minute aan elke kant tot verbruin.
Sit die jaffels met ’n bietjie ekstra blatjang voor.
VARKVLEIS-MACARONI MET MARMITE EN KAAS
Hierdie macaroni-en-kaas is ’n smaaklike variasie op die klassieke resep wat in baie huise ’n gesinsgunsteling is. Met bekostigbare bestanddele, moontlik reeds in jou spens, is dit die perfekte maaltyd vir besige huishoudings. Dit bak binne 20 minute en sal die hele gesin laat smul.
PORSIES: 4 / VOORBEREIDINGSTYD: 10 MINUTE / GAAARMAAKTYD: 20 MINUTE
Bestanddele
500g maer varkmaalvleis
1 klein ui, gekap
Macaroni
Olie om te braai
Sout en peper
1 opgehoopte eetlepel Marmite of vleisekstraksmeer
350 g roomkaas of karringmelk
350 ml room
Gerasperde cheddarkaas
Fyngedrukte soutskyfies of broodkrummels vir bo-op
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Maak bietjie olie in ’n pan warm, braai dan die uie daarin tot deurskynend. Voeg die varkmaalvleis en geurmiddels by en braai tot bruin. Meng die Marmite met ’n bietjie water om te verdun en roer by. Prut vir 'n paar minute voor jy die room en roomkaas byroer. Laat dit vir ’n paar minute prut, voeg die gaar macaroni by en meng goed. Skep in ’n oondbak.
Sprinkel 2-3 koppies van die gerasperde kaas en ’n bietjie broodkrummels bo-op en bak in die oond vir 15-20 minute.Laat effens afkoel en sit voor.
YORKSHIRE-POEDINGROLLADE MET OONDGEROOSTERDE VARK
Hierdie prettige kinkel op ’n tradisionele gereg is ’n goeie manier om sappige geroosterde varkboud voor te sit – rek dit verder met vleissous en krakeling.
PORSIES: 6 / VOORBEREIDINGSTYD: 45 MINUTE / GAARMAAKTYD: 35 MINUTE
Bestanddele
250 ml koekmeel, gesif
3 eiers
200 ml volroommelk
5 ml gekapte pietersielie (opsioneel)
30 ml kookolie
Vulsel
Ten minste 400 g oondgeroosterde varkboudskywe
Dijon- of volgraanmosterd (jou gunsteling)
3 preie, 2 sprietuie en 1 knoffelhuisie gekap en in botter gebraai
’n Groot hand vol vars bronkors en babaspinasie
Bros krakeling-skywe (opsioneel, sien wenk)
Baie vleissous om voor te sit
Metode
Klits die eiers, meel en melk saam. Voeg die kruie by en klits om ’n gladde beslag te vorm. Laat staan ??vir 30 minute. (Wenk: Jy kan ’n stokmenger of elektriese klitser gebruik as jy sukkel om ’n gladde beslag met die handklitser te kry. Gooi die beslag deur ’n sif om seker te maak daar is geen klonte nie.)
Voorverhit die oond. Gooi die olie in ’n diep kleefvrye roosterpan (37x27 cm) en verhit in die oond vir 5 minute. Haal die warm pan versigtig uit die oond en gooi die beslag vinnig in die warm olie. Sit die pan terug in die oond en bak vir 25 minute – moenie loer nie! Die Yorkshire-poeding-rollade moet gerys, goudbruin en pofferig wees.
Laat die gaar Yorkshire-poeding-rollade uit die pan gly tot op ’n skoon werkoppervlak en druk effens plat met ’n vurk of die agterkant van ’n groot lepel.Stippel die mosterd oor die oppervlak, rangskik die varkskywe bo-op en smeer die gaar preimengsel oor. Skep die spinasie en bronkors oor en rol die rollade styf oor die vulsel.
Sit die gevulde rollade voor in dik skywe met krakeling en baie sous.