
Dit is ’n feit dat enigiets uit die Leica-stal van uitsonderlike gehalte sal wees en dit is ook die geval met die Calonox Sight wat onlangs bekend gestel is. Dié optiese produk is ontwerp om aan ’n geweerteleskoop geheg te word vir jag. Dit kan egter ook as ’n termiese kamera vir waarnemings gebruik word. Die ander beskikbare model is die Calonox View, wat meer geskik is vir termiese waarneming.
Die Calonox View sowel as die Sight het wat Leica noem Leica Image Optimization (LIO). LIO verbeter die beeld met spesiale algoritmes en verkry sodoende besonder gedetailleerde kleurgradasies, uitstekende kontras en hoëdetail-resolusie. Die Calonox View en Sight het hul eie onderskeie toepassings vir jou slimtoestel: Een koppel met Wireless LAN en die ander met Bluetooth, wat jou in staat stel om via jou slimtoestel maklik instellings te verander sonder om in die keuselys en instellings op die werklike Calonox in te gaan.
Goeie detailherkenning
Die Calonox View en Sight het albei vier kleurmodusse: White Hot, Black Hot, Red Hot en Rainbow, met buitengewone hoë kontras en detailherkenning.
Die Calonox View het ’n gesigsveld van 18,3 m x 14,6 m/100 m, wat ongelooflik is met die opsporingsreeks van 3 000 m. Om eerlik te wees, ek het dit nie geglo nie, want dit het onmoontlik geklink, maar ek is vroeër vanjaar verkeerd bewys op ’n plaas naby Musina. Trouens, ek meen dit kan selfs meer as 3 000 m wees. Volgens Leica het die View ’n herkenningsafstand van 1 000 m en ’n identifikasie-afstand van 500 m.
Die Leica Sight het ’n gesigsveld van 15,5 m x 11,7 m/100 m. Dit spog met ’n opsporingsafstand van 2 000 m, ’n herkenningsafstand van 700 m en ’n identifikasie-afstand van 350 m. Met hierdie soort produkte is die batterylewe altyd deurslaggewend, want jy wil nie hê hulle moet jou in die steek laat wanneer jy dit die nodigste het nie. Die Calonox View se batterylewe is ongeveer 4-5 uur, terwyl die Calonox Sight se battery ongeveer 8-11 uur sal hou, wat perfek is vir jagtoestande.
Die Calonox View en die Sight weeg albei slegs 685 g, battery ingesluit. Sommige knaldempers weeg meer. Die Sight is effens swaarder as jy die aansluitringe insluit. Die Calonox View het ’n digitale zoem van 1x/2x/3x/4x, terwyl die Sight slegs ’n optiese basiese vergroting van 1x het, wat nie ’n probleem is wanneer dit aan ’n teleskoop gekoppel is nie.
Instel van Calonox Sight
Die Calonox Sight moet ingestel word, maar dit is so maklik soos om jou geweer op 100 m in te stel sonder die Calonox View. Sodra dit klaar is, heg die Calonox Sight aan die teleskoop en maak seker dit is reguit gemonteer. Skiet dan weer na die teiken op 100 m. As die skoot nie die kol tref nie, moet die Calonox Sight verstel word en nie jou teleskoop nie.
Die Calonox Sight se skerm moet aangepas word, want dit beteken dat die termiese kamera nie op jou teleskoop se kruishaar gesentreer is nie.
Klik op die middelkieslysknoppie totdat jy die kieslys kry. Soek vir “Reticle Correction” en gaan na die aanpassingsmodus. Doen die regstellings soos vereis en bêre die instelling. Vuur nog ’n paar skote op die teiken om seker te maak dit is reg ingestel. Verwyder dan die Calonox, skiet ’n paar skote, monteer dit weer en skiet nog ’n paar skote om te verseker dat alles perfek is.
Die Calonox View en Sight kos onderskeidelik R89 000 en R79 000. Dit word eksklusief ingevoer en in Suid-Afrika versprei deur Tudortech (Edms.) Bpk.