
As krities gekyk word na die reproduksieprestasie van die meeste kommersiële vleisbeeskuddes in Suid-Afrika, merk ’n mens kommerwekkende neigings. Hoewel ’n speensyfer van 85% as algemeen aanvaarbaar beskou word, is dit in werklikheid vir min kuddes ’n realiteit. Voeg daarby die herbesettingsyfer by eerstekalf-koeie, wat telkens onder 60% daal, en tussenkalfperiodes (TKP) van meer as 450 dae, dan moet ’n mens wonder: Waar val die pap op die grond?
Ekonomiese aanvulling van weiende diere berus op die bestuur van die dier se liggaamskondisie. Die verwantskap tussen reproduksiedoeltreffendheid en liggaamskondisie is duidelik gedokumenteer in verskeie studies. Dit is egter in die bestuur van die balans tussen natuurlike hulpbron-aanbod, verlangde produksie-uitset en ekonomiese strategiese aanvulling waar die kruks lê.
Faktore wat nadelig invloede op hierdie balans het, verskil van produsent tot produsent, maar algemene oorsigte wat gesien word, sluit in reaktiewe aanvulling pleks van proaktiewe aanvulling, waar produsente tipies te laat begin met strategiese winteraanvulling wanneer diere reeds kritieke kondisie begin verloor het. Hierdie is baie “duur” kondisie om te herwin. Dieselfde geld in gevalle waar winteraanvulling te vroeg onttrek word. Suid-Afrikaanse winters is tipies langer as wat die persepsie is.
Nog ’n punt van belang is die verwagting dat “as produk A by my buurman goed presteer, sal die produk net so goed op my plaas vaar”. Baie produkte het ongelukkig op dié wyse onnodig ’n slegte reputasie ontwikkel. Die hulpbronaanbod verskil van plaas tot plaas, so ook die produksiedoelwitte, verwagte uitsette en genetiese potensiaal van die diere. Dit is dus uiters belangrik om die keuse van jou produk in ooreenstemming te bring met die ekonomiese en reproduksiedoelstellings van jou plaas.
Met die huidige kosteknyptang moet boere veral nou waak teen goedkoop wat duurkoop is. Daar is talle goedkoop opsies beskikbaar, maar dit is soms ’n baie duur opsie wat te laat besef word met suboptimale diereprestasie ’n paar maande later. Vergelyk appels met appels en plaas ’n premie op produkte van gehalte (klaarproduk en grondstofbronne), tegniese ondersteuning en produkvernuwing. Pleks van die rand-per-sak-som, maak eerder die R/RP-som, of die R/MJ-energie-som. Onthou twee mededingende produkte kan as voorbeeld albei 40% ru-proteïen bevat, maar kan wesenlike verskille tot gevolg hê, wanneer dit kom by gerealiseerde marges per koei of per hektaar.
Wat beskikbaar is
Nutri Feeds bied pasmaakoplossings vir Suid-Afrikaanse probleme. Nutri Feeds se winterprodukreeks bied aan die produsent ’n aantal hoëgehalte-, kostedoeltreffende aanvullingsopsies, wat deur ’n span wetenskaplikes met die samewerking van voedingkundiges geformuleer is om volhoubare winsgewende diereprestasie te bevorder.
Mnr. Phillip Lee is die senior tegniese en verkoopsbestuurder vir herkouers by Nutri Feeds.