
’n Rasegte Bonsmara-kudde geteel hoofsaaklik uit mnr. Gert Nel se Germar-Bonsmarastoetery is een van die uitstekende aanbiedings op die boedelveiling van wyle mnr. Phillip Jacobs wat deur Vleissentraal aangebied word.
Die kudde bestaan uit 770 beeste, wat 300 koeie met kalwers, 100 dragtige en oop verse, en 20 bulle insluit. Al die diere is getoets vir dragtigheid en besmetlike misgeboorte (BM). Dit is gehaltediere wat geteel is uit een van die bekendste Bonsmara-stoeterye in Suid-Afrika.
Die beeste is egter net een deel van die veiling wat ’n fantastiese aanbieding het vir diegene wat ernstig is oor boerdery. Op aanbod is vyf titelaktes wat almal aan mekaar grens. Die vyf plase is: Philandspan – porsie 1 (lot 1), wat 1 427,9982 hektaar beslaan; Philandspan – porsie 2 (lot 2) van 353,1289 hektaar; Vereeniging – porsie 1 (lot 3) van 942,1852 hektaar; Vereeniging – porsie 2 (lot 4) van 182,8887 hektaar; en Zwartlaagte (lot 5) van 556,7476 hektaar. Die grond saam beslaan 3 462,9486 hektaar.
Die plase is geleë in die distrik Soutpan wat welbekend is om sy kommersiële beesboerderye, asook die verbouing van graangewasse. Dit lê sowat 45 km noord van Bloemfontein, 30 km oos van Dealesville en 42 km wes van Brandfort. Die Krugersdrifdam is net suid van die plase. Daar is maklike toegang tot die plase vanaf Dealesville en Brandfort op ’n grondpad wat goed in stand gehou word.
Al die plase is weidingsplase met watersuipings in alle kampe. Betonwatertrogge is in van die weidingskampe geïnstalleer. Al die weidingskampe is met veeheinings omhein.
Die gemiddelde reënval in die distrik is 401-600 mm per jaar, met ’n gemiddelde maksimum temperatuur van 26,9-27 °C in die somer en minimum temperatuur van 0-3 °C in die winter. Die plase bevat ook boorgate met windpompe, gronddamme en ’n betonreservoir.
Die plaas Vereeniging het ’n hoofhuis, ’n kothuis langs die hoofhuis en drie motorhuise. Daar is ook sewe werkershuise, veekrale, twee skure en ’n vleisverwerkingseenheid.
Roerende bates gaan ook opgeveil word. Dit sluit onder meer die volgende John Deere-trekkers in: ’n 6330, ’n 4430, ’n 3130 en ’n 2020. Ook op aanbod is ’n Leo-voermenger, vuurvegter, mobiele laaibank en vele meer.
Die plase se grootste voordeel is dat dit netjies in stand gehou is. Die koper sal net kan instap en boer.
Die veiling word op die plaas Vereeniging gehou en vind op 9 Februarie om 10:00 plaas. Die eiendom kom eerste aan die beurt en dan die vee. Alle voornemende kopers kan op die dag van die veiling registreer of aanlyn op die Meerkat-platform. Die eiendom en vee kan enige tyd besigtig word per afspraak met die verteenwoordigers, mnre. Jan Oberholzer (eiendom) en Piet de Wet (lewende hawe).