
Die Braford-beesras is, in ooreenstemming met ’n wêreldwye neiging, een van talle sintetiese rasse wat oorspronklik in 1946 in Australië ontwikkel is. Deur middel van kruisteling is die beste eienskappe van die Brahman en Hereford saamgevoeg om dié nuwe ras te vestig.
Die eerste kruisteling in Suid-Afrika is in die 1970’s gedoen en die SA Braford-telersgenootskap is in 1997 gestig. Tans is daar ongeveer 5 500 geregistreerde vroulike diere op die Breedplan-stelsel en die ras groei vinnig.
Brafords is aanpasbare mediumraamvleisbeeste wat onder alle omstandighede in Suid-Afrika sal produseer en reproduseer. Hulle is vroeg geslagsryp en uiters vrugbaar. Brafords het uitsonderlike moederlike eienskappe, geboortegemak, ’n hoë speenpersentasie en ’n goeie voeromsettingsverhouding. In ’n onlangse studie by ’n kommersiële voerkraal is bevind dat Braford-ossies, wat daaglikse groei, uitslagpersentasie en vleisgehalte betref, gunstig met die beste van die bestes in Suid-Afrika vergelyk.
Vrugbaarheid is die belangrikste eienskap wat oorweeg word in die keuse van die SA Braford. Die genootskap as geheel beoog om ’n gemiddelde tussenkalfperiode van 400 dae te bereik. Braford-bulle het uitsonderlike libido en streng seleksie word op skrotumomtrek gedoen.
Die Braford is ’n mediumraambees. Die gemiddelde geboortegewig van kalwers is 30-36 kg en die speengewig van 170 kg tot 270 kg, wat 45-50% van die koeigewig verteenwoordig.
Telers selekteer vir fenotipiese eienskappe soos:
• Geen pienk oë word toegelaat nie. Daarom word baie klem gelê op oogpigmentasie en goed ontwikkelde oogbanke.
• ’n Gladde huid sonder krullerige hare.
• Konformasie en ’n goeie loopvermoë word streng beoordeel.
Die wenkombinasie van top-Hereford- en Brahman-gene stel die Braford in staat om aan te pas, te reproduseer en te floreer in verskillende omgewingstoestande, wat wissel van ekstreme hitte tot uiterste koue, in nat en droë omgewings. Braford-telers kom tans voor in al die provinsies van Suid-Afrika.
Brafords is dus die veelsydige veld- en voerkraalvleisraskeuse.