
Boere in Suid-Afrika is gesteld op goeie naverkopediens. Dit is ’n les wat John Deere al in 1878 geleer het toe die eerste John Deere-toerusting per ongeluk in die Kaap geland het.
’n Skip met ’n vrag John Deere’s wat vir Indië bestem was, het naby Hermanus gestrand. In daardie dae kon enigeen vat wat hy van ’n gestrande skip kon afhaal en ’n maatskappy wat gespesialiseer het in sulke “reddingsoperasies” het die John Deere’s afgehaal en verkoop.
Nog voor John Deere in Amerika die nuus ontvang het dat die skip gesink het, het die eerste briewe van Suid-Afrikaanse boere waarin hulle vra vir onderdele en diens, al aangekom!
By die toekenningsgeleentheid van John Deere se Tegnikus van die Jaar 2016, het Jason Brantley, besturende direkteur van John Deere Sub-Sahara Afrika, dié storie vertel om te verduidelik waarom die landboureus so gesteld is op goeie, kundige, tegniese bystand.
Hy het ook gesê die beste manier waarop John Deere kan help om die groeiende bevolking te voed, is om op die voorpunt van tegnologie te bly en om te sorg dat die tegnologie verstaan, toegepas en in stand gehou word tot op plaasvlak. “Dit help niks ons bou die wonderlikste masjien en hy staan langs die land nie,” sê Jason. John Deere doen baie moeite om sy tegnici behoorlik op te lei en twee jaar gelede is daar ook besluit om aan die top-tegnici erkenning te gee met ’n kompetisie.
- Geniet die voordele van kundige tegnici. Kontak jou naaste John Deere-handelaar om uit te vind hoe hulle jou kan bystaan.