
Die
afgelope twee weke heers daar groot opwinding onder inwoners van Bella-Bella,
Modimolle, Mookgophong en Mokopane in Limpopo se Waterbergstreek: Die Nylrivier
het vir die eerste keer sedert 2014 afgekom.
Die rivier ontspring in die Waterberg naby Bela-Bela en vloei noord tot by Mokopane waar dit die Mogalakwenarivier word. Op die plaas Moorddrift hou me. Tersia Smit getrou boek van die Nylrivier se vloede waar dit oor die familieplaas vloei.
Oor die laaste 20 jaar was die rivier in vloed in 2014, 2010, 2009, 2004 en 2000. Ander jare is dit net ’n grasvlakte op swaar kleigrond. Toe ’n groep diep godsdienstige trekboere, wat bekend gestaan het as die Jerusalemgangers, in die 1860’s op ’n breë rivier met ’n groot vloedvlakte op die Springbokvlakte langs die Waterberg afkom, het hulle geglo hulle het op die Egiptiese Nylrivier afgekom en daarom staan hierdie waterbaan vandag steeds as die Nyl bekend.
Op die foto is die rivier by die Moorddrift-treinbrug
net suid van Mokopane. Dit het glo Donderdag in die oggendure onderdeur die
brug begin vloei. Met ’n baie geleidelike val kos dit die water in die rivier
tot twee weke om die 70 km van Nylsvley by Modimolle tot by die Dorpsrivier by Mokopane
te vloei.