
Dis belangrik om terug te ploeg in die gemeenskappe
waar hulle veilings hou. Daarom het Casmar Landbou met die samewerking van
Veilingswinkel se werktuie-afdeling, DieWinkel, besluit om voortaan ook nou en
dan veilings van werktuie te hou waar ’n deel van die wins geskenk sal word aan
die gemeenskap waar dit aangebied word.
“Ons kom baie in die plattelandse gebiede en besef net al hoe meer hoe belangrik gemeenskapswerk is,” sê mnr. Jaco Pretorius, uitvoerende hoof van Veilingswinkel en DieWinkel.
Op Woensdag 3 Augustus is die eerste veiling in Ottosdal, Noordwes, gehou en ná kommunikasie met die plaaslike boeregemeenskap is besluit om Laerskool Ottosdal te ondersteun. Mnr. Dirk Laas, ouer en voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê die skool is afhanklik van sulke finansiering om sy deure oop te hou.
Ten spyte van gietende reën het 'n klomp boere die initiatief kom ondersteun. Meer as R100 000 is vir die laerskool ingesamel.
“ ’n Mens kan nie net die koei melk nie: Jy moet haar kos gee ook. Ons het ’n groot kliëntebasis in Ottosdal en dit was vir ons lekker om vandag dié gemeenskap te kon help,” sê mnr. Casper Wenhold, eienaar van Casmar Landbou.
Wenhold sê hulle wil sulke veilings landwyd aanbied. Belangstellende gemeenskappe kan hom kontak by 083 520 9634.