
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarskuwing uitgereik dat die tropiese storm Ana, wat op 20 Januarie as ’n laagdrukstelsel in die verre oostelike gedeeltes van die Suidwes-Indiese Oseaankom ontwikkel het, swaar neerslae van 50 mm tot 100 mm oor Limpopo kan veroorsaak.
Mnr. Henning Grobler van die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die storm, wat tans oor die noordelike gedeelte van Botswana beweeg, bring baie vog oor die noordelike gedeeltes van Suid-Afrika. Dit sal waarskynlik vandag en môre reënval tot gevolg hê.
Volgens hom sal die storm dan weswaarts in die rigting van Namibië beweeg en waarskynlik vanaf môre reënval oor die somerreëngebied veroorsaak.
Grobler sê Limpopo, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat kan oor die volgende drie dae reën verwag, na gelang van waar die laagdrukstelsel homself posisioneer.
Volgens die weerdiens se modelle lyk dit of tropiese, vogtige lug afwaarts oor die Noord-Kaap beweeg wat enkele donderbuie en selfs verspreide reënbuie tot gevolg kan hê. Grobler sê die storm kan teen Maandag selfs sover as die Oos-Kaap afbeweeg.
“Dit wil voorkom of groot gedeeltes van Suid-Afrika, veral die noordoostelike gedeeltes weer reën in die volgende week sal kry.”