
Die tropiese storm Ana volg nie die normale patroon van so ’n storm oor Suider-Afrika nie. Volgens die normale patroon beweeg so ’n storm weswaarts oor Madagaskar, oor die Mosambiekkanaal en sal dit dalk die vasteland tref voordat dit suidwaarts en later suidooswaarts in die Mosambiekkanaal in die Indiese Oseaan in wegbeweeg.
“Ana het reguit weswaarts beweeg en verswak en geensins ’n poging aangewend om in die kanaal weg te beweeg nie,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Die oorblyfsels van Ana bestaan nou as ’n laagdrukstelsel oor die noordwestelike dele van Botswana op die grens met Angola en Namibië.”
In die volgende paar dae gaan hierdie sterk laagdrukstelsel suidwaarts draai en ver sterk oor Namibië. Die stelsel sal na verwagting teen môre (29 Januarie) oor die noordelike dele van die Noord-Kaap wees.
“Swaar reën gaan voorkom oor die oostelike en suidoostelike dele van Namibië, asook oor die sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap vanaf veral Sondag en Maandag (30 en 31 Januarie). Voorspellings dui dat meer as 50 mm moontlik is vanaf ongeveer 29 Januarie tot 3 Februarie,” sê Van den Berg. “Dit is veral in die gebied oos van Prieska tot anderkant Pella en suidwaarts tot byna die suidelike grens van die Noord-Kaap wat swaar reën kan verwag. Die stelsel kan suidooswaarts asook ooswaarts uitbrei vanaf 2 Februarie, met swaar reën oor gedeeltes van die Oos-Kaap en ligter neerslae oor die meer noordelike provinsies.
“Daar is dus ’n risiko van swaar reën van meer as 50 mm met moontlike oorstromings langs die Benede-Oranjerivier, wes van Prieska vanaf veral Sondag 30 Januarie. Die groot risiko is dat die Oranjerivier steeds baie hoë vlakke sal ervaar in die volgende week en nog reën kan groot skade veroorsaak as gevolg van water wat na die oorvol rivier vloei en opdammings kan veroorsaak as gevolg van keerwalle en ander versperrings, asook die hoë watervlak.”
Daar is dus nie net ’n risiko vir byna die hele rosyntjie-oes en ander druiwe wat nog nie geoes is nie, maar ook vir infrastruktuur en wingerde self. “Wees dus waaksaam vir die tydperk vanaf 30 Januarie tot ongeveer 5 Februarie. Waar moontlik moet werktuie en pompe na hoër grond verskuif word langs die Oranjerivier,” sê Van den Berg.
*Intussen het die weerkantoor vanmiddag luidens 'n verklaring aangedui dat 'n tweede gematigde tropiese storm, Batsirai, tans oor die verre oostelike dele van die Suidwes Indiese Oseaankom lê. Batsirai sal na verwagting weswaarts beweeg en Mauritius teen volgende week bereik.