Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê hoewel dit nog nie seker is of sneeu beslis sal voorkom nie, dui voorspellings die moontlikheid daarvan vir die suidelike en suidostelike dele van die land aan.
“Sneeu in September of selfs later is nie so ongewoon nie. Daar was al verskeie voorvalle in die verlede in September en selfs Oktober soos op 15 tot 18 Oktober 1990 toe redelike swaar sneeu oor dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat, en natuurlik oor die Drakensberge voorgekom het.” Van den Berg sê volgens weerrekords het sneeu op 10 September 1981 tot so ver noord as Johannesburg voorgekom.
Wat reën in die komende week betref, het die kans oor die suidoostelike en oostelike dele van die land verbeter. Met die redelike sterk ontwikkeling van die derde agtereenvolgende jaar met ’n La Niña-verskynsel kan baie sterk stelsels binne kort tydperke ontstaan met gunstige bo-lugtoestande.