
Dele van die suidoostelike binneland, soos die Oos-Kaap en Suid-Vrystaat, kan teen die einde van die week maksimum temperature van rondom 10 °C of laer aanteken. Die dorpe waar dié koue dae van 23 tot 25 Junie verwag word, is onder meer Barkly-Oos, Queenstown, Dordrecht, Fauresmith en Kokstad.
“Minimum temperature gaan ook skerp daal vanaf 23 tot 28 Junie en swaar ryp kan voorkom oor die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap, die suidelike dele van Noordwes en die Hoëveld van Mpumalanga,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Reën, sneeu oor somerreënstreek
Die laagdrukstelsel wat die naweek oor die noordwestelike dele van die binneland en die aangrensende dele van Namibië en Botswana ontwikkel het, het tropiese vog en gevolglik reën na die gebiede gebring. Die reën gaan van Dinsdag tot Donderdag oor die westelike dele van die Noord-Kaap voortduur. Die stelsel sal van laat Woensdag en Donderdag ooswaarts beweeg en verswak.
“Meer as 30 mm is moontlik oor die grootste deel van die sentrale tot noordelike dele van die Noord-Kaap, wat strek van Onseepkans en Pella in die weste tot Postmasburg in die ooste, vanaf Pofadder suid van die Oranjerivier tot by Askham in die noorde en Kuruman in die noordooste,” sê Van den Berg.
“Reën van 10 mm tot 20 mm is moontlik oor die aangrensende dele van die Noord-Kaap tot so ver suid as die Wes-Kaapse grens, die Vrystaat en die aangrensende dele van die Oos-Kaap en Noordwes. Ligte reën word oor Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal tot 24 Junie verwag.”
Vrydag is daar ’n moontlikheid van sneeu oor die suidelike Drakensberge en die aangrensende dele van die Oos-Kaap in distrikte soos Barkly-Oos en Elliot.
Reën oor die winterreënstreek
Met die volgende koue front wat vandeesweek oor die land gaan inbeweeg, is daar van Donderdag tot Saterdag ’n kans op reën oor die suidelike dele van die binneland, wat insluit die gebied suid van die Oranjerivier, die suidelike en suidoostelike dele van die Oos-Kaap en die hele Wes-Kaap. Daar is ook ’n moontlikheid van meer as 10 mm oor die baie droë kusgebiede van die Oos-Kaap, wat veral Gqeberha insluit, rondom 24 Junie.
Meer as 20 mm kan voorkom oor die Swartland, die Kaapse metropool en die aangrensende Wynland-distrik, asook die Overberg.
Min of geen reën word van 25 tot 30 Junie oor die winterreënstreek verwag.
Koue en reën in Julie
’n Volgende frontale stelsel kan in die eerste week van Julie neerslae van meer as 20 mm oor die grootste deel van die winterreëngebied veroorsaak, veral oor die wintergraangebiede, die Wynland-distrik en die Kaapse metropool. “Bewolkte en koeler toestande gaan saam met die reën voorkom. Redelike swaar neerslae is veral moontlik rondom 1 en 2 Julie,” sê Van den Berg.
Die kans op reën oor die sentrale tot suidelike binneland, wat insluit die suidelike dele van die Vrystaat en Noord-Kaap, maar veral die Oos-Kaap en die suidelike dele van KwaZulu-Natal is goed rondom 2 en 15 Julie. Sneeu is weer moontlik oor die hooggeleë gedeeltes van die Noord-Kaap en veral die Oos-Kaap en Drakensberge.
Van den Berg sê volgens weermodelle gaan lae minimum temperature volgende maand deurlopend oor veral die sentrale en suidelike binneland voorkom.