
Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê die koue fronte sal met sterk wind, hoë golwe, swaar reënval en ’n aansienlik daling in temperature gepaard gaan.
Die eerste koue front sal die Wes-Kaap teen Sondagaand bereik. Dit sal voorafgegaan word deur noordoostewinde van 50 km/h tot 60 km/h, met rukwinde van 70 km/h tot 80 km/h oor die suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap, asook die Wes- en Oos-Kaapse binneland. Die weerdiens waarsku dat die wind skade kan aanrig.
Volgens die weerdiens sal golfhoogtes tussen Kaappunt en Kaap Agulhas Maandagoggend en -middag 4 m tot 4,5 m wees. Sterk noordoostelike winde van 50 km/h tot 60 km/h kan langs hierdie kusgebied verwag word.
Nog ’n koue front sal die Wes-Kaap Maandagaand bereik. Dit sal swaar reënval van 50 mm tot 80 mm in die suidwestelike gedeeltes van die Wes-Kaap, veral die Kaapse metropool, die Kaapse Wynland en die Overberg, veroorsaak. Die weerdiens waarsku dat paaie kan verspoel.
Die front sal Dinsdag na die Oos-Kaap beweeg. Volgens die weerdiens sal die reënval daar nie genoeg wees om ’n noemenswaardige impak op die provinsie se damvlakke te maak nie.
Die weerdiens sê temperature sal Maandag oor die hele Wes-Kaap en die Namakwa-distrik daal. Die koel temperature sal ooswaarts versprei en Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal teen Woensdag of Donderdag bereik.
Weens die koue temperature sal vriesvlakke na verwagting aansienlik daal en Dinsdag ligte sneeuval veroorsaak oor die suidelike hoë gedeeltes van die Namakwa-distrik en hooggeleë gedeeltes van die Oos-Kaapse westelike binneland. Dit kan volgens die weerdiens Woensdag na die hooggeleë gedeeltes in die noordooste van die Oos-Kaap versprei.
Intussen sê mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, die provinsie se rampbestuursentrum is op ’n hoë gereedheidsvlak geplaas om die nodige bystand te bied.
Daar is volgens hom ook kommer oor die moontlikheid van veldbrande wat deur die sterk winde aangevuur kan word.