
Verskeie dele van die Oos-Kaap het ’n goeie wegspring vir die somerreënseisoen gehad, maar goeie neerslae ontwyk steeds sekere distrikte in die provinsie.
Volgens mnr. Peter Knoesen, voorsitter van die Steytlerville-boerevereniging, het die distrik oor die naweek sy eerste noemenswaardige reën gehad. Dit is ondanks wydverspreide reën wat sedert die aanvang van die somer in die westelike dele van die Oos-Kaap geval het. Die distrikte ervaar al vir verskeie jare erge droogtoestande. Die distrikte sluit in Willowmore, Jansenville, Klipplaat en Graaff-Reinet.
“Die naweek was die eerste keer dat ons kan sê ons het reën gekry nadat dit sewe jaar droog was by ons.”
Hy het 20 mm oor die naweek tot Maandag op sy plaas gemeet, “en dit gaan ’n verskil maak”.
Die Steytlerville-boerevereniging werk saam om voer in te koop, en Knoesen verwag binnekort weer ’n vrag mielies. In die afgelope sewe jaar het meer as 2 300 ton mielies die distrik ingekom. Die boere het vir die meeste daarvan betaal. Die boerevereniging hou jaarliks lootjieverkope om geld in te samel om mielies aan te koop. (Gaan na bit.ly/3IxdPAz om meer daaroor te lees). Hulle samel tans geld in om die vervoer van mielies te subsidieer, wat aansienlik meer kos weens die styging in brandstofpryse.
“Finansieel sukkel die boere nog, want hulle is leeg gevoer omdat hulle al ’n klomp jare voer. Dit wat jy agter is, sal jy nooit inhaal nie, want jy kon nog nie weer op getal kom nie en moet maar ’n tipe bestaansboerdery voer,” sê Knoesen.
Optimisties
Volgens mnr. Jules van Aardt, ’n boer van Bedford, is dit ’n groot verligting om nie meer net te voer weens die vreeslike droogte nie en het die diere se kondisie ook verbeter. Hy het tot dusver 160 mm in ses weke gehad.
Hy meet gemiddeld 500 mm per jaar op sy plaas, en weens ondergemiddelde reën die afgelope agt jaar het hy ’n hele jaar se reën minder gemeet in dié tydperk.
“Dit is nou groen by ons in die distrik, en die veld is pragtig, maar dit is baie kort. Die soeter grasse is nou besig om te groei. Hoewel dit groen is, gaan die rooigrasse nie baie groei nie, want ons het nie die koue winterstoestande gehad wat die rooigras laat ontkiem nie.”
Hoewel die reën verligting bring, glo hy dat opvolgreën belangrik is. “Ons moet van Januarie tot April goeie reën kry, sodat ons die winter goed kan ingaan. Die vorige paar jaar het ons altyd reeds swaar in die winter ingegaan. As die eerste somerreën dan laat kom, was ons in die moeilikheid.”
Volgens mnr. Erik Meyer, wat naby Alicedale boer, het die Boesmanrivier wat oor sy plaas loop, die eerste keer in die afgelope ses jaar oor sy walle gestoot en is dit die beste wegspring tot die somerseisoen in die afgelope vyf jaar.
“Van die veld se kant af is dit ’n goeie wegspring in die somerseisoen. Die veld is besig om groen te raak, maar daar is nog baie herstel nodig ná die afgelope paar jaar se droogte.”
Meyer sê hy is optimisties oor die komende seisoen. Hy hoop die seisoene is besig om na normaal terug te keer.