
’n Derde tropiese storm wat Afrika se weerstelsels kan beïnvloed, ontwikkel sowat 3 000 km oos van Madagaskar. Weermodelle dui aan dat dié storm die laaste tropiese storm vir die 2021-’22-somerseisoen kan wees, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Intussen het sikloon Batsirai, wat die naweek grootskaalse verwoesting langs die kusgebiede van Madagaskar veroorsaak het, begin verswak namate dit oor land begin beweeg het. Die storm het windsnelhede van 186 km/h langs die suidoostelike kusgebiede van die eiland veroorsaak, maar die windspoed het intussen afgeneem tot 70 km/h tot 80 km/h. “Gister (7 Februarie) het die sikloon in die Mosambiekkanaal inbeweeg en suidwaarts langs die weskus van Madagaskar begin beweeg. Teen ongeveer 9 Februarie behoort dit ver genoeg suidooswaarts in die Indiese Oseaan weg te beweeg om uit die invloedsfeer van weerstoestande oor Suid-Afrika te wees.”
Van den Berg sê die storm kan wel tot onstuimige toestande langs die kusgebiede aan die ooste van Suid-Afrika bydra. Die weerkantoor het verlede week in ’n verklaring aangedui dat tropiese vog wat vanaf Botswana oor Suid-Afrika beweeg het, swaar reën oor dele van Suid-Afrika kon veroorsaak het. Die neerslae van 100 mm en meer oor dele van Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal die naweek is deur dié vog veroorsaak.
Wat die volgende tropiese storm betref, bestaan die moontlikheid dat die storm nie Madagaskar gaan bereik nie en derhalwe moontlik ook nie enige gevaar gaan inhou vir Suider-Afrika nie.
“Met see-oppervlaktemperature in die suidelike Indiese Oseaan wat begin afneem as gevolg van die son wat meer noordwaarts loodreg op die aarde skyn, begin dit ook veroorsaak dat siklonale aktiwiteit sal begin afneem. Die 2021-’22-sikloonseisoen sal dus gekenmerk word deur ’n baie lae voorkoms van siklone omdat die oppervlaktemperature van die westelike Indiese Oseaan vir ’n groot deel van die seisoen baie matiger tot koeler as gemiddelde temperature was. Vanaf begin Januarie 2022 het water noord en oos van Madagaskar verwarm tot ongeveer 28 °C en dit het die paar siklone veroorsaak,” verduidelik Van den Berg.
Van 10 tot 25 tropiese storms kom gewoonlik gedurende die somer voor.
La Niña
Die afname in siklonale aktiwiteit in die Indiese Oseaan beteken egter dat reënvalpatrone kan terugkeer tot die patrone in die laaste deel van Januarie. Die La Niña-verskynsel is steeds redelik sterk en kan ’n verdere impak op reënval uitoefen in komende maande.
Die sekondêre effek van die verswakkende sikloon Batsirai is dat minder reën gaan voorkom oor die grootste deel van Suid-Afrika tot ongeveer 15 Februarie omdat ’n hoogdrukstelselstelsel oor die land gaan domineer as teenpool van die sikloon wat ’n sterk laagdrukstelsel verteenwoordig. “Daar gaan steeds heelwat reën voorkom in die volgende dae oor Zambië, Angola en Namibië wat op die perimeter lê van die hoogdrukstelsel oor Suid-Afrika, Botswana, Zimbabwe en die suidelike dele van Mosambiek,” sê Van den Berg.
“Vanaf middel Februarie kan tropiese vog suidooswaarts begin beweeg oor Botswana en oor die sentrale dele van Suid-Afrika. Meer as 30 mm is moontlik in die derde week van Februarie oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, die hele Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Ligte neerslae kan verwag word oor Limpopo, die westelike dele van die Noord-Kaap en die grootste deel van die Wes-Kaap tot einde Februarie.”
Teen einde Februarie en begin Maart kan heelwat reën oor die grootste deel van die somerreëngebied voorkom, met verdere reën in die laaste deel van Maart. “Somerreënval kan aanhou tot in Mei as gevolg van die heersende La Niña-verskynsel. Die kans op verdere vloede in veral die Benede-Oranjerivier is nog nie verby nie, omdat swaar reën tot in Maart in die opvanggebiede van die Vaal- en Oranjerivier kan voorkom.”
Van den Berg sê die stroopproses van somegrane kan vertraag word weens verdere reën in komende maande.