Dié eens dorre landskap het die afgelope sewe jaar onder ’n erge droogte gebuk gegaan. Dit het landwyd nuusopskrifte gehaal. Dele van die Karoo is tot ’n rampgebied verklaar en grootskaalse geldinsamelingprojekte is vir boere en hul gesinne van stapel gestuur.
Minder as ’n jaar gelede het kinders jonger as sewe jaar in die distrik Carnarvon net enkele reëndruppels al gesien wat vanuit die lug val. Maar hulle het ook gesien: So vinnig as wat dit die grond tref, so vinnig het dit in die droë sand verdwyn.
Damme het opgedroog en vee kon sewe jaar lank nooit die bossies van die Karoo proe nie. Hulle moes jare aaneen gevoer word net om te oorleef.