
’n Laagdrukstelsel wat suidwaarts oor Namibië beweeg, gaan na verwagting warmer, vogtige lug oor Suid-Afrika laat beweeg en tot Woensdag reën en donderstorms oor dele van die somerreënstreek veroorsaak.
Die stelsel gaan nie reën vir die winterreënstreek bring nie, maar ’n koue front wat die land later vandeesweek kan bereik, kan reën vir dele van die winterreënstreek bring.
Mnr. Puseletso Mofokeng, senior weervoorspeller van die weerdiens, sê daar is ’n 30%-kans op reën oor die oostelike dele van Mpumalanga en Limpopo vandag, terwyl daar ’n 30%-kans is op donderstorms oor die meer noordelike dele van die Noord-Kaap, by veral Prieska en Pofadder.
Reën en donderstorms kan Dinsdag plek-plek oor die westelike dele van Noordwes, die Vrystaat, die oostelike en noordelike dele van die Noord-Kaap, dele van KwaZulu-Natal en dele van die Oos-Kaap voorkom. “Toestande sal van Woensdag af begin opklaar, met ’n 30%-kans op reën en donderstorms plek-plek oor Noordwes, die Vrystaat en Gauteng,” aldus Mofokeng.
Winterreën
Wat neerslae oor die winterreënstreek betref, sê me. Samke Thwala, weervoorspeller in Kaapstad, ’n koue front wat die land na verwagting van Donderdag af gaan nader, kan Vrydag reën bring oor die suidwestelike dele van die winterreënstreek.
Tans word ’n 30%-kans op reën Vrydag voorspel vanaf die kus en die Kaapse metro tot by die Kaapse Wynlanddistrik, asook langs die Weskus. Die neerslae kan tot Saterdagoggend voortduur, met die stelsel wat na verwagting Saterdag meer oor die Suidkus en die Overbergdistrik gaan beweeg. Die kans op neerslae oor dié dele word ook op sowat 30% geskat.
Dit is nie tans duidelik of die stelsel dieper oor die winterreënstreek gaan inbeweeg nie.