
Ondergemiddelde reën word nou vir die herfs voorspel word. “Daar was ’n drastiese verandering in die laatseisoenvoorspelling van bogemiddelde reënval na redelike sterk seine vir ondergemiddelde reënval vir die grootste deel van die Oos-Kaap,” lui die nuutste voorspelling van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se weerkantoor in die Oos-Kaap.
Die vooruitsig is veral kommerwekkend vir dele van die Oos-Kaap waar droogtetoestande steeds heers, soos die Nelson Mandelabaai-opvangsgebied en die distrik Sarah Baartman, waar waterreserwes steeds laag is.
Volgens mnr. Garth Sampson van die weerkantoor is die Nelson Mandelabaai Metro steeds in ’n droogtegreep vasgevang. Januarie 2022 was in werklikheid die tweede droogste in 122 jaar (sedert 1900), met slegs 6 mm wat gemeet is. Die minste reën – slegs 5,5 mm – is in 1983 gemeet.
Die gesamentlike houvermoë van die damme wat water aan die metro lewer, het teen 3 Februarie op 18,03% gestaan.
Volgens die weerdiens sal gebiede wat gedurende Desember en Februarie nie genoeg reën gekry het nie, watertekorte beleef.
Dit sluit onder meer die Gamtoos- en Kouga-streek in, wat die Kougadam insluit, wat tans op 16,48% staan.
Boere in die Klein-Karoo-streek wat, volgens die weerdiens, dorpe soos Steytlerville en Jansenville insluit, word gewaarsku dat die verwagte droër tydperk ekstra druk sal plaas op gebiede wat van Desember tot Februarie nie goeie reënval gemeet het nie.
“Boere en watergevoelige bedrywe word gewaarsku dat modelle nou ’n droër tydperk voorspel. Die verre westelike deel kan in Junie bogemiddelde reënval kry.”
La Niña
Volgens die weerdiens is die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso) tans in ’n La Niña-fase en volgens voorspellings sal dit voortduur tot in die herfs, wanneer Enso ’n kleiner impak op reënval het. Dit kan egter somerreënvalgebiede in die midherfs raak. Die teenwoordigheid van La Niña gedurende laatherfs kan gunstig wees vir bogemiddelde reënval oor die somerreëngebiede.
Volgens die multi-modelreënvalvoorspelling word ondergemiddelde reënval vir die grootste deel van Suid-Afrika van Februarie tot April verwag. Daar word veral droër toestande vir die Winterberg en omliggende gebiede verwag.
Die noordoostelike deel van Suid-Afrika kan bogemiddelde reënval van Maart tot Mei verwag, met droë toestande oor die sentrale dele van die Oos-Kaap. Daar heers onsekerheid oor die oostelike dele van die provinsie vir dié tydperk.
Van April tot Junie word ondergemiddelde reën vir die grootste deel van die Oos-Kaap verwag, met die moontlikheid van bogemiddelde reën oor die verre westelike dele van die distrik Sarah Baartman.
Die noordelike streke van Suid-Afrika kan bogemiddelde minimum temperature gedurende herfs verwag, terwyl die suidelike dele ondergemiddelde minimum temperature kan verwag. Die hele Suid-Afrika kan bogemiddelde maksimum temperature gedurende die herfs te wagte wees.