
Valencia, die plaas van me. Sophie Horn, sowat 35 km vanaf Arandis in die Erongostreek in die weste van Namibië, staan geel in die blom en groen weivelde staan in die saad ná die eerste goeie reën in sowat agt jaar. Volgens Horn het hulle die afgelope vier jaar geen reën gehad nie en die vorige vier jaar is byna geen reën op die plaas aangeteken nie.
Die gemiddelde reënval in hierdie streek is 50 mm per jaar. Op Valencia waar die Horn-egpaar, Melinda en Francois, woon en werk met vergunning van Sophie, het daar hierdie reënseisoen al 66 mm geval. Die boere in hierdie deel van die land is dankbaar vir elke druppel reën.
Hierdie droogte het sy tol geëis en daar is geen diere meer op die plaas nie. Die Horn-egpaar is nou genoodsaak om hul beesboerdery van voor af te begin. Ander boere in die omgewing is in dieselfde bootjie waar wild en ander diere gevoer moes word gedurende die droogte.
Melinda vertel dat selfs roofdiere gevrek of groener weivelde gaan soek het. Daar het nie volstruise, hase, gemsbokke of selfs jakkalse oorgebly nie.
Die Horn-egpaar het, om hul inkomste aan te vul, ’n paar jaar gelede, toe die droogte op sy ergste was, besluit om met kwartels ook te boer. Hulle maak ’n groot sukses daarvan, hoewel dit net sorg vir brood op die tafel. Gedurende die laaste paar jaar kon hulle nie beeste of skape aanhou in hierdie deel van die Namibwoestyn nie.
Valencia is die tweede laaste plaas waar daar nog geboer word. Dit grens aan die stuk niemandsland, wat aan die regering behoort en waar plase nie uitgesit is nie omdat daar nie lewensvatbaar geboer kan word nie.
Die natuur op Valencia is so dankbaar vir reën dat gras sigbaar is twee dae nadat dit sowat 13 mm gereën het. Vir die drie jaar van 2019 tot 2021 het hulle saam slegs 19 mm reën gekry. ’n Ekonomiese boerdery-eenheid in die omgewing is 21 000 ha. Die volhoubare drakrag is 60 ha per grootvee-eenheid.
Volgens mnr. Francois Horn sal hulle ongeveer 100 beeste kan aanhou vir twee jaar met die weiding wat daar tans is. Water is daar genoeg vir veesuipings met boorgate wat so diep as 200 m geboor word, met ’n watervlak van ongeveer 135 m vanaf die oppervlak. Hierdie water is sout en brak wat dit ongeskik maak vir tuinmaak en groente- of vrugteverbouing.