Tot 60 mm reën het die naweek in die Langkloof naby Misgund geval, met noemenswaardige neerslae van meer as 30 mm in die omgewing van Gqberha. Ligter neerslae wat met sneeu gepaardgegaan het, het ook in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap se noordelike binneland en die aangrensende dele van die Vrystaat geval.
“Die vooruitsig op goeie reënneerslae oor die somerreënstreek in komende weke is redelik swak, hoewel dit begin verbeter in September oor die Ooskusgebiede, wat insluit die Oos-Kaap, die suidelike dele van die KwaZulu-Natalse kus soos Port Edward en later verder noord,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Daar is ook ’n kans op neerslae van tot 10 mm oor die suidwestelike dele van die Noord-Kaap op plekke soos Williston en Calvinia in die eerste tien dae van September.”
Van den Berg sê volgens voorspellings kan die eerste werklike somerreën oor die oostelike dele van die somerreëngebied in die laaste tien dae van Oktober begin voorkom en later in November weswaarts uitbrei. “Die vooruitsig vir die midsomer, vanaf November tot Februarie, lyk steeds gunstig vir gemiddelde tot bogemiddelde reënval.”